Goue Handsak

Ek beplan nie veel vooruit nie. Die jaar loop soos hy moet. Daar klop ‘n koerier aan my hek en gee ‘n pakkie. Opgewonde maak ek oop. Binne is sagte snees papier is hierdie goue handsak. Al wat binne is, is ‘n nota.

“Goue vrou, hierdie is ‘n jaar van gee. Kies daardie een plek waar jy goue feëtjie stoffies wil laat val om iemand se hart bly te maak. Sodra jy die volgende kode intik op jou selfoon, sal jy alles kry wat nodig is om jou saak te help. KODE WOORD – Gaanvirgoud”

Ek vertel Baaskind. Ons kyk vir mekaar. Ons weet. Die verskil is net dat sy as buitestaander saam met die Goue Vroue sal moet gaan. Ek whatsapp die GV en die boodskappe vlieg heen en weer. Ek tik op my selfoon die kode woord in. Ek moet ‘n beskrywing terugstuur van my projek. Die skerm wys – GEDOEN GAAN VIR GOUD.

Ons vertrek almal in die nuwe bussie wat nie bekend/berug is nie. Elke GV het ‘n lêer in haar hande. Die konvooi begin beweeg.

Ons bussie
Die Goue Konvooi

Ons is oppad Heilbron toe. Baaskind gaan gehoor toets en ek hanteer die pasiënte maar die res van het elkeen hulle eie agenda. En dit wat hulle nodig het om ‘n goue daad te doen, is alles in die goue trokke gepak. Dis ‘n gegil en gelag van ‘n ander aard. So nou en dan verdwyn een se kop in haar lêer as sy seker maak sy is op die regte spoor. Toe ons verby Frankfort gaan ,maak ek hulle stil. “Ons twee het ‘n instelling. Ons speel altyd hierdie song net voor ons Heilbron in ry….en dan sing ons kliphard saam…..sommer net omdat dit so lekker ritme het. So hier gaan ons!”

Koue rillings! Die klomp goue vroue sing uit volle bors. Ons is nou op so ‘n high, dit gaan ‘n dag vol pret wees! Die nuus van die groot konvooi het ons vooruit geloop en toe ons weer sien word ons Heilbron ingelei deur die plaaslike verkeerspolisie. Motors staan langs die pad geparkeer en mense waai en toet dat dit ‘n aardigheid is. So jammer die tehuis is aan die begin van die dorp….

Daar stilgehou, klim almal uit en elkeen stap na haar trok toe. Almal weet wat hulle gaan doen. Ek en Baaskind stap in om solank te groet en die pasiënte wag al in hul Sondag kleertjies vir ons. Die ander wat kan, staan buite en bekyk hierdie besigheid. Die verpleeg personeel help die wat hulp nodig het om ook uit te gaan. Die gesiggies blom. Die Goue Vroue spring aan die werk.

Ekmyself het die grootste taak aangepak. Sy gaan die tuin vernuwe. Daar is ‘n enorme groot stuk grasveld tussen die tehuis en die dam. Sy is in haar element. Beplan voetpaadjies vir die wat nog kan stap. Bankies om te sit en na die dam staar. Plant nuwe bome. Kort voor lank is dit ‘n miernes van bedrywigheid.

Toortsie is dadelik kombuis toe. Sy en die kombuismatrone sit en planne maak. Spyskaarte word aangepas, geskrap en nuwe geregte word sommer dadelik vir vandag beplan. Sy organiseer daardie kombuis binne minute sodat dit lyk soos ‘n Michelin restourant.

Christa het haar kamera gebring. Sonell se trok is vol klere en haarprodukte en grimering. Sy en haar span begin by die eerste kamer en maak die tannies mooi. Al kan die tannie nie opstaan nie, sy word mooigemaak, en word met sorg in nuwe vere uitgedos en dan kom Christa en sy neem fotos. Haar kamera kliek kliek en kliek kliek. Sy neem ‘n hele portfolio van elke tannie. Kameel loop van kamer na kamer, waar sy elke inwoner blitsvinnig om haar pinkie draai en gou weet van hul lief en leed. Vir die wat leed het, bid sy. en sy drukkie almal. Sy lag kliphard saam met die wat net wil lag. Sy is nou Smarties vir die siel.

Una is besig om al die kamers oor te dekoreer. Nuwe gordyne, beddegoed, stoele en kussinkies. Elke kamer wil mooier lyk as die vorige een. Sy vra twee vrae en dan weet sy waarvan die tannie gaan hou. Sy en Trommels werk saam. Trommeltjies maak vir die kamers mooi goedjies. Dit waarvan die tanie hou. Seegogga verf vir elke inwoner ‘n spesiale skildery wat sy flink teen die muur ophang. Iets wat die tannies se gesigte laat ophelder.

Positief reël kuiers en vakansies. Sy sit met haar laptop en haar vingers vlieg oor die sleutelbord. As die tannie nog mobiel is, reël sy vliegtuigkaartjies, hotel besprekings. Vir die wat nie kan reis nie, reël sy dat kinders of geliefdes kom kuier. Sy boek almal in by 96 On Breë Gastehuis. En vat nie nee of verskonings nie. Frannie skryf weer elkeen se verhaal neer. Sy hoor van toeka se dae toe hulle nog boer vrouens was, hoe swaar hulle gekry het of hoe ryk hulle was. Maar met haar tipiese deernis, skryf sy elkeen se storie. En pink trane. Aalsie maak opnames van die oulike verhale wat sy later gaan uitsaai op Radio Overberg. Sy is so natural, die ou mensies staan tou om hulle staaltjies te vertel.

Virgo? Ja! Reggeraai! Sy het die matrone beet. Hulle gooi ou medisyne uit en alles wat skadelik is. Rakke word vol nuwer en meer effektiewer produkte gepak. Sy is soos ‘n tonic vir die verpleegpersoneel en wys hulle nuwe tegnieke en metodes om siek mense te versorg. Dis gebabbel is oordonderend. Aalsie moet hulle later stilmaak want hulle geroesmoes beinvloed die opnames.

Intussen pas Baaskind apparate en toets ore. Ek hol heen en weer en neem fotos van alles wat gebeur. Dis ‘n droom wat waargeword het. My droom was dat die hele plek nuut uitgeverf word en dat die saal waarin die orrel en klavier staan, meer soos ‘n regte aula sal lyk. Die verf spat en die matte wat oud is word uitgeruk. Nuwe meubels in die ontvangsarea. Nuwe kantoormeubels. Baaskind kan almal pas met die beste apparate vir hulle. Dis ‘n ongeflippenlooflike dag. Die plaaslike koerant se verslaggewer kom neem fotos.

Die dag loop stadig ten einde. Die mensies gaan sit vyfuur aan vir ete. Toorts het haarself oortref. Na die ete word almal beglei na die nuwe ouditorium toe. Hulle sak in die sagte stoele neer. En dan begin Appetljie se vingers dartel oor die orrel se klawers. Sy speel een na die ander Hallelujah lied. Bewerige stemmetjies sing saam. Trane loop oor verrimpelde wangetjies. Sommiges huil versigtig want hulle wil nie Sonell se handewerk vernietig nie. Net voor dit heeltemal donker word, stap die wat kan deur Ekmyself se pragtige paadjies. Ander word in stoele gestoot. Dis ‘n lieflike aand op Heilbron.

Die trokke vertrek. Dis na nege as die klomp Goue vroue op Heilbron se Spur toesak. Baaskind en Positief reël cocktails. Hulle is later self agter die kroeg om te meng. Die prsoneel en die Goues kuier oor en weer. Kelners kry cocktails en die bestuurderes word bedien. Die dorpenaars kom en gaan. Hulle wil sien hoe lyk hierdie groep Goue Vroue. Sommiges van hulle is teleurgesteld as hulle sien dis net normale mense. Dis BAIE laat (of baie vroeg) toe almal tot rus kom in 96 on Breë gastehuis. More gaan ons terug. Ons het vir goud gegaan.

Ek wonder net of daar iemand anders is wat ‘n goue handsak gaan kry. Ek skat ons moet maar wag en sien. Welgedaan Goue Vroue….julle het almal julle kant gebring!

27 comments

  1. Ek sit hier en is die ene hoendervleis, WoordNoot. Jy het dit reggekry om die mooiste uit elke Goue Vrou te haal en ons die geleentheid gegee om ons eiesoortige liefde uit te deel. Wegedaan!!

    Liked by 2 people

  2. wow, welgedaan! Weet jy, op Robertson is daar ou wat presies dit doen. Jaypee Malherbe wat naam gemaak het as haarkapper en die hele bruid ding. Sy bruide was meestal die Burger se bruid vd jaar. Toe kry hy beroerte en trek Robertson ouetehuis toe. En begin onmiddellik en gee vir al die tannies make overs. Hy reel konserte en uitstappies en toe spring hy in die tuin in. Die tuin is nou aller pragtigs. Die dekor is oorgedoen met nuwe prente, eetkamerversierings ens, speletjies dae is gereel. Kersetes en wat nog. Die ouetehuis weet nie wat hulle getref het nie! In Jan-Feb 2022 se Bruis is n storie oor Jaypee in sy jong dae toe almal gedink het hy lyk soos James Dean.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s