Liewe jy….

Ek het baie jare laas met jou gepraat. Om eerlik te wees, wil ek nooit met jou praat nie. Maar ek moet.

Ek het laasweek begin om ‘n reeks te luister van ene Dr Michelle Strydom. Dalk het jy al van haar gehoor, maar omdat ek jou ken, weet ek vir ‘n feit dis nie goed waarna jy ooit sal luister nie, wat eintlik nogal jammer is want ek moet sê, ek gaan alles weer en weer luister want daar is ‘n hele paar geraamtekasse se sleutels daarin weggesteek. Ek is besig om daai kassies een vir een oop te sluit en om die geraamte in sy oogkaste te kyk, reguit in die oë.

Toe ek vir Apteker leer ken het, was my vraag hoekom drink party mense so baie medisyne want hulle loop letterlik met ‘n grocerysak daaruit. My ma was een van hulle. ‘n Pil vir dit en vir dat, vir sus en vir so ensovoorts. Hy het my daai tyd geantwoord: “Meidjie…..onthou dat die oorsaak van ALLE siekte is psigosomaties, met ander woorde, alle siektes onstaan in jou gedagtes. Toe ek dus op hierdie reeks afkom, het dit my nuuskierigheid geprikkel want hy was net ‘n aptekertjie…hierdie is ten minste ‘n DOKTER! En oh boy….my liewe Apteker. Jy was so reg.

Maar dit bring mee dat ek moet begin krap. In my eie menswees. Die keuse is eenvoudig. Krap daai dik roof af en laat die wond heel word, of los alles net so en jou voorskrif word elke maand langer en dit raak duurder. En dit bring my nou by die skrywe. (En ek kan nie nog meer medikasies bekostig nie!)

Borskanker. Linker bors kanker dui op haat en bitterheid teenoor ‘n vrou wat bloedverwant is. Regs dui weer op haat en bitterheid teenoor ‘n vrou wat nie ‘n bloedverwant is nie, maw dalk ‘n vriendin/onderwyseres/skoonma ens. Ek wat so hoogheilig is en niks teen geen mens hou nie, verloor my regterbors. Vir jare lê ek dit voor my man se deur. En ek moet daai ene nog gaan regmaak. Maar laasnag herinner die Binneste van Binnestes my aan jou.

Ek gaan nie uitbrei oor dit wat jy aan my gedoen het nie. Want dan verontskuldig ek myself. Ek gaan erken. Ek het dadelik die diamant gesien wat jy weggegooi het. En ek het hom liefgekry en ek het saam met hom teen al jou boosheid baklei. Jy het ons duisende rande gekos. Jy het selfs sover gegaan as om jou kinders te gebruik. Jy het hulle net eendag by my kom aflaai, twee dae voor Kersfees want jy het gehoop dat ek handdoek sal ingooi en hom sal los soos ‘n warmpatat. Maar daardie was ‘n fout, want ons het verenig en saam teen jou geveg. Maar jy het dit reggekry om my met emosies kennis te laat maak wat ek nie eers gedink het bestaan in my mondering nie.

Ek het vir die eerste keer in my lewe gehaat. Fel. Hard. Jy het ‘n spasie begin opvul. Nes gemaak in my gedagtes. My toegespin soos jy met jou kinders en jou gewese man gedoen het. Toe hy oorlede is, het ek asem begin haal en vrede gemaak met als wat jy aangevang het, Gedink it is done and dusted. Toe die besef my tref dat my litteteken eintlik ‘n naam het, en ek die hek oopmaak, was ek siek om te weet dat ek nog al die jare baie bitterheid het oor jou. Want ek praat nog met jou dogters en besef jy is nog steeds dieselfde mens. Niks het jou nog ooit verander nie. Na al die jare, amper dertig jaar later, is ek nog steeds die skuldige in jou oë. En jy nog steeds die haatlike mens wat almal wat met jou n aanraking kom,vernietig.

Maar ek het ‘n wakkerword oomblik gehad. Ek weet nou wie my wortel van bitterheid is. En ek erken dit openlik op ‘n sosiale blad, waar mense wat dit lees ‘n oordeel gaan fel. Hetsy goed of kwaad. Maar dis oukei. Dit gaan ‘n rukkie vat om als uit te woed, maar daarna sal ek weer asem haal. Sal ek die leer klim, nog een trappie op.

En dan sal die litteteken op my regterbors se naam nie meer Lily wees nie, maar Begenadigde,

29 comments

  1. Dit vat baie om hierdie te doen, WoordNoot, om jouself te ontbloot. Begenadigde het jou wys en sterk gemaak, en daarom hoef jou litteken nie meer verbloem te word nie. Wens ek was naby sodat ek jou ń druk kon gee. Vlerke van ń arend, dis wat jy het; mag jy rustig op Sy strome sweef.

    Liked by 3 people

  2. Almal van julle met julle passie vur woorde, hou aan on jou emosie uit te sjryf. En as jy later nog iets onthou, voeg dit by. Dis n katarsis. Facing it is n sielkundige hulpmiddel. En dan begin jy vra:Here ek wil vergewe, en more voel ek ligter. Hierdie is nue mooi woorde lig gespreek nie, dis oor en oor in my lewe toegepas.

    Liked by 2 people

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s