Hoe hou jy jou kop op…..

Almal is al kotsmoeg as jy net die woord Covid hoor. Want die Vader weet, daar is niemand in hierdie hele wye wêreld wat nie geaffekteer is deur dit nie. Ek lees gister van ‘n dokter wat by sy hospitaal se ICU venster gestaan het en gesien het dat ‘n jongman sy bakkie voor die hospitaal se ICU vensters parkeer het en liedjies van hoop speel, sy hande uitgestrek na die hospitaal. Biddend. Die dokter skryf dat die verpleeg personeel soveel emosionele skade gely het dat baie van hulle van plan is om die mediese professie te verlaat.

Ek staan by ons VENSTER. Oorkant ons is ‘n maatskappy wat geld uitleen. Jy gee jou motor as waarborg. As jy nie betaal nie, gaan haal hulle jou kar en jy is dieper as ooit in die moeilikheid want die bedrag wat jy moet betaal om daardie voertuig terug te kry is genoeg om n ander motor mee te koop. So drie weke gelede sien ek hoe die trok ‘n ambulans oplaai. Liewe Vader…in hierdie tyd is ambulanse noodsaaklik! Dis nie ‘n groep soos Netcare se ambulans nie. Maar daar is mense wat privaat ambulans dienste het. Maar dit maak nie saak nie. Ons het nou elke mediese voertuig nodig. Terwyl ek vanoggend my koffie drink sien ek dat die sleepvoertuig die ambulans weer aflaai. Die eienaar kon seker sy skuld vereffen.

Maar terselfdertyd laai hulle weer ‘n BMW op. Dalk ‘n Pa se enigste vervoermiddel werk toe. Die finansiële druk laat mense gryp na enige strooihalm. My hart huil, want ek weet hoe dit voel. Die Oom het so paar jaar gelede dieselfde met ons klein Panda gedoen. Ons was baie gelukkig om hom terug te kon “koop” want die bedrag wat ons moes inbetaal was amper dit wat hy gekos het.

Hoe hou mens jou kop hoog in hierdie tye? Hoe gaan jy aan as jy sien dat alles duurder en duurder word en jy het net soveel? Wat smous jy. Wat verpand jy.

Een van die beste stukkies raad wat ek destyds gekry het toe Pieter oorlede is, was dit: Staan elke oggend op en sit make-up aan. Maak nie saak of jy dit afhuil oor ‘n halfuur nie. Dis dieselfde soos jou bed opmaak. Maar die feit dat jy oggend vir oggend in jou eie gesig vaskyk en die tamheid, hartseer, bekommernis, bang wees, woede of bitterheid iewers op jou gesig opmerk, maak dat jy vir daardie paar minute gekonfronteer word met die geveg wat in jou afspeel. En soos jy jou gesig inkleur, verander jou gedagtes partykeer. Ek het vir baie jare net die basiese grimering aangesit. Wenkbroue bietjie ingekleur, strepies op die ooglede, bietjie blosser en lipstiffie.

Hoe hou ek my kop op? Ek maak nou weer tyd om met sorg my grimering behoorlik aan te sit. Ek het gaan kyk op Youtube hoe ouer vroue allerhande trieks kan gebruik om pof ogies, plooie en rooi kolle weg te steek. Ek doen weer moeite met oogskadu (my sus slaan nou om van skok). En terwyl ek nou aansienlik langer voor die spieël staan, het die stem in my hart langer tyd om te spraat. En dit maak nie saak of my masker my lippe dadelik op hom aftrek nie, my lippe word gekleur.

Wat hou my staande? My besluite wat ek neem voor die spieël. My gedagtes aan die geloof vasgemessel dat ek nie bevrees hoef rond te kyk nie. Daar is op die oomblik maar ‘n paar situasies wat my afwaarts trek, maar met elke “uplifting” grimeer tegniek wat help om die gesig op te lig, lig ek my gemoed. Opwaartse lyne. Oogskadu op die vou van die oog en nie in die gleuf nie….martini strepies met oogpotlode. Op die ou einde moet alles op.

En so hou ek my kop op. En vir die wat nog daarmee sukkel (en dis geen skande of skade nie,almal verwerk alles op hulle eie manier) hierdie is spesiaal vir jou:

15 comments

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s