Die geheim in die houtkas

Die wêreld verander teen ‘n vinnige spoed, ons kleinkinders word met ‘n selfoon en tablet in die hande groot. Hulle draai ‘n kraan oop, kry lopende water, sit ‘n skakelaar aan en daar is elektrisiteit. Sit ‘n TV aan en kyk ‘n storie. En dink selfs oumas is, soos Steve Hofmeyr oor spoke sing, so bietjie dom as ons nie so vinnig met die tegnologie is nie. Maar, daar is baie wat hulle nie weet nie, want ons oumas was ook kinders. En ons kan stories vertel … ‘n Bundel kinderstories uit die pen van die Goue Vroue. Kliek op hierdie skakel om die ander stories te lees.https://fresh.inlinkz.com/p/d9a4e9bae6aa4e179beee4acc3690247

Nadia Pieterse sit doodstil op die groot stoel op die stoep van die kasarm van ’n huis. Daar is so baie mense. Almal praat terwyl hulle koppies met tee drink of ’n hooggestapelde kleinbordjie vol eetgoed verorber. Die een tannie wil albei doen en sy kry dit nie heeltemal reg nie. Sy lyk skoon ongemaklik. Ouma Sanna sou nou gesit en giggel het vir die spektakel. Ouma Sanna het gegiggel vir enige iets. Dis Ouma Sanna se skuld dat mense nou hier so vreeslik eet en drink. Want sy het gestaan en doodgaan.
Nadia staan op en stap met die trappies af na die tuin. Die ou huis staan in die middel van die dorp, regs langs die kerk. Dit was die eerste huis in Verlorenfontein wat deur ’n man gebou is wat geld gemaak het met die goudstormloop. Die huis is omring deur bome. Sy drentel rond. Dis koeler onder die bome. Haar oog vang ’n beweging langs die heining. Sy loop saggies nader, eintlik maar skrikkerig want sy is ’n stadskind. As sy nader kom, sien sy dis ’n swart en wit kat. Hy sit penorent met sy stert om sy pote gevou. Hy kyk haar stip aan as sy nader kom. Sy een oog is pers en die ander ene groen. 
“Vir wat laat jy my so wag?” vra die kat skielik vir haar. 
Sy skrik en wil omdraai en weghardloop. Al is sy net tien jaar oud, weet sy dat katte nie kan praat nie.
“Moenie weghardloop nie, Nadia. Ek is jammer ek het jou skrikgemaak, maar jy moet saam met my kom” Die kat se stem is gebiedend maar vriendelik. Nadia is skielik niks meer bang nie.
“Ekskuus, Kat, maar waarheen gaan ons?” vra sy, nou baie meer nuuskierig.
“Kom,” sê die kat en begin voor haar uitloop. Nadia loop agterna en sien dat hulle na ’n buitegebou toe stap wat op die verste end van die erf gebou is. Kat loop by die deur in en Nadia volg. Die gebou is effens donker. Die kat loop tot in die middel van die vertrek. Daar staan ’n groot houtkis op die vloer, vol stof. Hy stap tot teenaan die kis.
“Kom, kom maak die deksel oop,” gebied hy haar weer.
Sy kom versigtig nader en voel-voel aan die deksel. Tot haar verbasing gaan die deksel maklik oop. Sy is nou bang om in te loer want sy onthou dat sy een aand skelm gekyk het toe haar ma die storie op die TV gekyk het. In die storie het hulle ook so ’n kis oopgemaak en ’n geraamte ingekry sonder ’n kop. Sy het gegil. Haar ma was baie kwaad vir haar. Bones is nie ’n kinderstorie nie. Klein dogtertjies mag nooit daarna kyk nie. Snaaks genoeg, sy is nou glad nie bang nie.
“Toe, toe’” por die kat haar aan. “Daar is nie baie tyd nie.”
Sy loer versigtig oor die rand. Die kis het nie ’n bodem nie. Daar hang ’n touleer teen die rand af. 
“Klim in en gaan af. Jy is veilig. Maar jy moet dit doen.” Iets in die kat se stem laat Nadia haar bene oor die rand swaai. Sy klim stadig met die touleer af. Terwyl sy afklim, ruik sy die reuk van soetkoekies. Ouma Sanna se soetkoekies. Haar mond water.
Hoe verder sy afklim, hoe ligter word dit. As sy van die laaste trappie afklim, is sy in die mooiste tuin. Sy staan verstom en rondkyk. Daar is rose van elke soort en kleur. Sy hoor water kabbel. Die bome is grasgroen. Die gras lyk soos ’n mat.
“Hallo Nadia,” groet ’n vrouestem haar. Sy swaai om en sien ’n pragtige jong vrou voor haar staan. Haar blonde hare hang soos ’n fyn goue krans om haar kop. Nadia het nog nooit sulke blou oë gesien nie. Haar stem klink soos musiek as sy praat. Nadia staar net na haar. Sy lyk so bekend!
“My naam is Susan. Wil jy wegkruipertjie speel?” vra die tannie.
“Ja, asseblief! Dis my lekkerste speletjie!” Nadia klap haar hande opgewonde.
“Gaan kruip solank weg. Ek sal jou kom soek.” Nadia spring weg en gaan kruip onder ’n groot bos weg. Sy giggel as Tannie Susan haar aan haar voete uittrek. Sy spring op en hardloop weg, maar die tannie vang haar en swaai haar hoog in die lug. Nadia het nog nooit so gelukkig gevoel nie. Vandat sy gehoor het Ouma Sanna is dood, het dit gevoel of daar ’n groot klip in haar hartjie is. Nou voel dit eerder of sy nooit gaan ophou lag nie.
Hulle speel al die speletjies wat sy en Ouma altyd gespeel het. In een van die bome hang twee swaaie. Hulle swaai hoog ,, hulle bene skop in die lug. As hulle tot stilstand kom, tel Tannie Susan haar af en hulle loop na ’n tafeltjie toe wat gedek is. Daar is ’n bordjie met grondboontjiebotter en konfyt toebroodjies, haar gunsteling broodjie. Langs dit is ’n bord met Ouma Sanna se soetkoekies en ’n bak met melktert, en ’n bak met Niknaks Daar staan groot glase met groen koeldrank. Dis alles eetgoed wat sy en haar ouma saam geëet het. Hulle gaan sit op die twee stoele en vir ’n paar minute is dit doodstil want albei se monde is vol.
Sy kyk oor die tuin uit terwyl sy die Niknaks een vir een in haar mond stop. Sy sien die rooi skopfietsie staan. Sy spring opgewonde op en hardloop nader. Dis sowaar haar skopfiets! Pappa het nog ’n Ferrari plakker daarop geplak. Vir ’n oomblik twyfel sy of sy op hom sal kan ry want haar bene is darem nou al baie langer. Sy klim op. Sy weet nie hoe dit gebeur het nie, maar haar voete raak die grond en sy moet skop om weg te kom. Tannie Susan is by en stoot haar, haar hand op Nadia se rug. Nadia jaag teen die afdraende af, die wind suis in haar ore. Tannie Susan bly by. Haar laggie klink soos ’n liedjie. Sy kry die fietsie gestop en spring af, terwyl sy haar magie vashou soos sy lag.
“Dit was die lekkerste wat ek nog op my fiets gery het, “ jubel sy vrolik. Tannie Susan val op die gras neer, en Nadia gaan lê langs haar. Hulle kyk vir die wolke.
“Kyk, daar is ’n beer,” sê Tannie Susan terwyl sy na die wolke wys.
“En daar is ’n engel! Kyk sy groot vlerke!” Nadia se stem is bewonderend.
“Nadia. het jy lekker gekuier saam met my?” vra tannie Susan skielik.
“Ja! Ek het. Dit het gevoel soos toe ek klein was en ek saam met ouma Sanna gekuier het. Weet tannie dat alles wat ons nou gedoen het, het ek en Ouma saam gedoen? “ Sy bly stil en sit skielik regop. Sy bekyk Tannie Susan op en af.
“Hoe het Tannie geweet dat als wat ons nou gedoen het, my en Ouma se favorites was?” vra sy sag. Sy kyk nou deurdringend na tannie Susan. Dis stil tussen hulle twee. Nadia gaan lê weer op haar rug. Sy sug as sy weer na die wolke staar. Die engelwolk begin opbreek en skielik lyk dit of die wolke letters maak. Sy staar na die wolke. Daar vorm ’n “S”. Nadia skud haar kop. Dan vorm die letter “A”. Die onsigbare hand in die hemel skryf langs die A die letter “ N”. Twee keer. Nadia weet sommer dadelik wat die laaste letter gaan wees. Natuurlik gaan dit “A” wees.
Sy vlieg regop en kyk nou intens na Tannie Susan. Haar hare is nie meer so glansend goud nie, maar gryserig. Sy het ’n goueraam bril op en haar hande is verrimpeld.
“Ouma Sanna?” vra sy verwonderd. Sy vryf oor haar oë want dit voel skielik of hulle vol sand is. Sy kyk en sien nog steeds Ouma Sanna by haar sit, ’n glimlaggie om haar mond. Sy steek haar hand uit en vat Nadia se handjie styf vas.
“Al is ek nie meer by jou nie, my liefste kind, onthou dat ek altyd in jou hart sal wees. Ek hoop jy onthou vir die res van jou lewe ons laaste partytjie saam.” Ouma Sanna lyk of sy oplos. Nadia sien haar nie meer so duidelik nie. SY vryf en vryf oor haar oë.


“Nadia! Word wakker, my kind. Jy lê so lekker hier onder die boom en slaap!” Sy maak haar oë vervaard oop en kyk in haar ma se gesig vas. 
“Waar is Ouma Sanna?” vra sy benoud.
“Ai my liefste kind. Ouma Sanna is dood, onthou jy? Ons is by haar begrafnis vandag.” Nadia knik net haar kop. 
“Maar ek en Ouma het gespeel, Mamma. In die mooiste tuin, met baie rose, net soos die rose in Ouma se tuin. Ons het geswaai en ek het skopfietsie gery en ons het groen koeldrank gedrink.” begin Nadia verduidelik.
“Ek dink jy het gedroom, my skat. Ek het gesien toe jy en daardie kat so in die tuin rondloop en toe ek jou weer soek, toe lê jy hier en slaap.”
“Ek het nie gedroom nie, Mamma! Dit was regtig! Vra die kat!” Nadia wys na die wit en swart kat wat eenkant onder die boom lê, sy pootjies netjies onder hom ingevou.
Haar ma lag net. “Katte kan nie praat nie, Aspatat. As ek hom sou vra en hy antwoord my, skrik ek myself dood!”
Nadia sê niks. Haar ma sal haar nie glo nie. Sy staan op en stap na die kat toe wat haar net aanstaar. Toe sy by hom kom, buk sy af en sê saggies:
“Dankie Kat. Dankie dat jy my na Ouma toe gevat het.”
Die kat kyk stip na haar, en dan, soos in ’n stadigspelende rolprent, knik hy sy pers oog vir haar.
©Ria Fourie
1650 woorde
8 November 2017

12 comments

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s