Volgens die slimmes is die perfekte smaak iets wat soet, sout, bitter en suur in het. Perfek.
Ek beleef die laaste paar dae net bitter en vanoggend…toe kom daar soet by. Ek vertel maar eerste van die bitter.
Ongeveer 5 jaar gelede hervat my dogter vriendskapsbande met n ou skoolvriend. Hy is totaal teenoorgestelde van haar. Die gesegde “donker en diep” kry gedaante. Eers is hulle net weer maats maar dit ontwikkel in iets meer. Maar sy donkerte kry haar partykeer onder en hulle breek die verhouding maar na baie beloftes en nuwe voornemens hervat hul dit weer en besluit om te trou. Die laaste paar weke begin dinge weer erg raak. Na kwaai woorde sê hy laas week vir haar dat hy besef hy het hulp nodig. Vrydagmiddag is sy afspraak by die sielkundige. Uitspraak is dat dit n wonderwerk is dat hy nog nie selfdood gepleeg het nie en dat hy nie n verslaafde is nie. Dis nie net een sielkundige probleem nie maar n paar. Hy word opgeneem in Denmar.
As 14jarige seun moes hy meer as een keer toekyk hoe sy stiefpa sy ma verniel. Sy eie pa was n alkholis. Een aand het dit te ver gegaan en verdedig hy sy ma. Stiefpa beland in ICU. Sy ma kies op die ou end die stiefpa. Daar is nie meer plek vir hom nie en hy beland in huis 13 in Jakaranda kinderhuis. Sy ma besoek hom twee keer in vyf jaar. Die 1e keer om te sê sy skei die man en n rukkie daarna om hom mee te deel dat sy en sy jonger broer saam met n nuwe man emigreer. Hy bly in die kinderhuis tot matriek. Die absolute verwerping en vrees om weer van sy geliefdes te verloor ruk hande uit. Nou moet hy binne 3 weke jare se seer deurwerk. Hy mag nie besoekers kry nie. Klein Sassypants weet nie waar haar Dada is nie. En my dogter vra my om asb net vir hom te sê dat ek lief is vir hom want sy ma het dit nooit gedoen nie. Dis nie vir my moeilik om dit vir hom te sê nie want ek maak maklik spasie in my hart vir iemand. Wat die bitter smaak vir my is, is dat ek dit gesien het en nie aandag gegee het nie. Hier was n kind wat net n bietjie liefde vra. Ek kan net bid..hom bel en bemoedig en hoop hy kom heel anderkant uit. My skoondogter het erger daar uit gekom as toe sy ingegaan het.
By die seer het die soet ook gekom. Glimlagkind wat nou al vier jaar sukkel in haar huwelik het vanoggend gehoor dat sy die adjunk hoof pos gekry het. 16 jaar gelede as n groentjie daar begin en deur al haar donkerte deur het daar vandag n lig deurgebreek.
So wag ek vir lig om deur te breek vir elke situasie wat nog deur donker oorskadu word.
Die proepalet is halfpad perfek.
Bitter-soet, dit is ń baie gepaste opskrif, WoordNoot. My bors trek toe terwyl ek lees, soveel hartseer wat een kind moes deurgaan. Ek is saam met julle dankbaar oor Glimlagkind se pos!
LikeLiked by 1 person
Dankie vriendin..vir jou saamlees terwyl ek weet jy dra ook swaar
LikeLike
En die lig gaan finaal deurbreek….die finale stappie na totale genesing en jy gaan die mamma vir hom wees wat hy nodig het. Dis hoekom!
LikeLiked by 1 person
Hy is eintlik so saggeaard
LikeLike
Hoe mooi skryf jy: Jy gaan die mamma wees wat hy nooit gehad het nie, en ek voeg by, ongeag wat op die ou end tussen hom en haar dogter gebeur. ❤️
LikeLiked by 1 person
Daar is soveel hartseer op die ou aarde. Sterkte vir almal vorentoe!!!
LikeLiked by 2 people
Hoe n hartseer verlede. Met julle liefde sal hy oorwin, glo ons. Baie geluk met pragtige skoondogter. Regtig bitter soet!
LikeLiked by 1 person
Hartseer…ja.
Hopelik kom hy sterker anderkant uit.
LikeLike
Ai WoordNoot bittersoet voorwaar! Dankke dat jy dit met ons gedeel het. Ek bid vir die arme nan wat al soveel verwerping in sy lewe moes verduur. Ek bid dat hy die geleentheid sal kry om sommige van daardie goed tog in die oë te kyk en meer lig sal kry. Ek bud dat die behandeling vir hom goed sal wees. En ek bid vir jou dogter dat sy die regte besluit oor hulle toekoms sal neem, wat dit ookal is. En ek bid vir jou vir krag en wysheid. Ek sal heeldag op julle fokus vandag. ❤️
LikeLiked by 1 person
Dankie liewe Toortsie….ons bid sonder ophou maar die goeie gaan hieruit ook kom. My dogter het na baie lank weer haar klawerbord afgestof en begin sing…sy het so n mooi stem. So daar gaan meer goed as sleg hier uitkom….ek glo dit met my hele hart.
LikeLiked by 1 person
Amen
LikeLike
Ek werk elke dag met n handjievol kinders wat n pa se verwerping ervaar. Dit maak my so kwaad. Niks onder die son is so erg soos verwerping nie
LikeLike
Dis die “root of all evil”….
LikeLike
Met liefde sal daar oorwinning kom, onvoorwaardelike liefde.
LikeLike
💛💛
LikeLike