Geen nuwejaars voornemens

Ek kon nog nooit regtig by nuwejaars voornemens hou nie. Teen dag twee het ek al weer verkeerd gedoen. Nou is ek op die ouderdom dat ek nie meer kan onthou wat ek twee dae terug besluit het nie! As ek gister ‘n wagwoord verander het, is die kans daar dat ek dit vandag alweer moet verander. Ek is so bly vir die nuwe manier om op Google in te teken, net vir daardie rede. Maar ander die anderkant maak dit ons ou breine net luier om te onthou. Of wag! Dis dalk wat HULLE wil hê, dat ons nie meer moet onthou nie. Saam met al die ander goed wat HULLE doen om ons mensdom in zombies te verander, is hierdie seker ook ‘n manier. Vat so katvis! Julle is uitgevang.

Maar terug by nuwejaars voornemens. Eish mense, ek is sleg met sulke goed. Dis dalk my groen geaardheid. Ek is net so sleg met ‘n emmerwens lys. En sommer met ‘n klomp ander goed ook. Soos die uitdaging van Christa oor die wildste ding wat jy al gedoen het. Almal se bydraes was so goed. En daar sit ek en lees alles, maar wraggies….ek kan nie deelneem nie. Kan een wilde ding onthou, maar dis iets wat ek eerder wil vergeet.

Maar ek kan besluit. En ek het besluit om hierdie jaar my boek reg te kry vir druk. Die storie is klaar geskryf, maar die proeflees moet nou nog kom. Ek verkoop nou Affie Plaas boerseep en Wonderwerk room ala Una, vir ‘n vale. Ek moet geld bymekaar maak vir die proeflees wat die duurste is van boeke uitgee. Die Oom se shuttle diens het eintlik ten gronde gegaan weens Covid. Maar toe begin hy darem weer so hier en daar mense gaan op en aflaai by die lughawe. En op die dag wat hy die volste geboek is in ‘n baie lang tyd, breek ons voertuig met twee passasiers op die snelweg. So begin ons 2021.

Maar my misie is tog nog steeds om my boek te publiseer. Ek skryf oor ‘n onderwerp wat min mense gedagte aan gee, maar wat baie meer relevant in die lewe is as wat ons gewone mense besef. Dit was baie maklik om kort verhaaltjies te skryf maar ‘n perd van ‘n ander kleur as jy ‘n verhaal moet skryf. Sover het ek nog elke aand my rekenaar uitgehaal en oopgemaak, aangesit en aan hoofstuk een gewerk. Dit is klaar geskryf, maar ek lees dit nou met ‘n ander perspektief en verander. Dis nou al 4 dae later en ek skryf hoofstuk een nog steeds oor. As ek dit met elke hoofstuk doen beteken dit as ek elke aand daaraan werk, dat dit so 140 dae gaan vat, maak dit eerder 170. Vyf en ‘n halwe maand. Net om dit reg te kry vir proeflees. En dan die uitleg en redigering. Nog ten minste drie maande.

Oukei, so om my een besluit vir 2021 in kort op te som. Dit gaan my hele 2021 besig hou. Ek dink om darem net in oefening te bly, moet ek net eers begin om elke dag net weer te blog. Net om my vingers soepel te hou en my brein weer te maak dink en te laat onthou.

Hierdie is dus die eerste blog van 2021 wat misiegedrewe is. Luiheid is nou taboe. Dis nou skouer aan die wiel sit, want intussen het twee anders stories ook al kom nes maak in my kop. Maar soos die lewe ons leer, is dit reeds op ‘n ouer ouderdom wat mens wel jou drome waar kan maak. En dis waarvoor ek hoop.

Bly veilig en bly kalm.

16 comments

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s