Swaardra al aan die een kant

Dis vandag weer bewolk en die kiesa sak kort kort uit. Verbeel ek my of is dit bewolk van Vrydag af? Dis beslis bewolk in my hart, daarvan is ek doodseker.

Vrydag middag eet ek en die Oom saam met drie van ons vyf skoolgaande kleinkinders ietsie saam. DJ se jaar punt is 85, Chey sn 87 en Caleb 82. Ek is bly om te sien dat ten spyte van Covid en min skoolgaan, die kinders nog steeds kon presteer. Ek salueer ook elke onderwyseres en skool wat hulle dood gewerk het tydens hierdie tydperk om nog steeds die beste uit die kinders te haal.

Maar toe bel ek my seun. My kleindogter, Jordan, het nege geword in Oktober. Na haar graad een jaar, het die skool haar teruggehou omdat sy nie skool gereed is nie. Sy ly aan aandagafleibaarheidsindroom, so sy is n handjievol en ek dink haar onderwyseres was jonk en onervare. Dit was immers haar eerste skoolhou jaar. Toe trek hulle en plaas haar oor na ‘n ander skool in die Ooste wat bekend is vir uitstekende onderwys. Sy was dadelik baie meer gelukkig en het in die eerste kwartaal van graad twee 85 persent vir wiskunde gekry. Wat vir my sê dat my kleinkind nie dom is nie.

Hierdie graad twee jaar van haar is kort geknip deur Covid. Die volgende is dat ek hoor dat haar Ma haar werk bedank het om na haar skoolwerk om te sien. Sesduisend rand ‘n maand minder. ‘n Groot knock. Maar sy sê sy sien kans. Ek moet bysê dat sy bipolêre depressie het en as gevolg van minder inkomste, nie regtig meer genoeg geld het om haar medisyne te koop nie. Maar as ek vra hoe dit met Jordan en die skool gaan, kry ek die versekering dat hulle nog steeds die skool te werk aanlyn doen.

Ek bel Vrydag aand om te hoor wat haar punte is. Al het sy tuisskool gedoen, die skool gee nog steeds die punte en plaas die kinders oor. Met ‘n skok hoor ek toe dat sy graad twee nie deurgekom het nie, Hulle gaan haar nou by Breinlyn inskryf sodat sy graad twee en drie saam doen. Saterdag praat ek met Glimlagkind wat al jare skoolhou en die sisteem uit haar kop uit ken. ‘n Kind mag nie meer as een keer in die grondslag fase teruggehou word nie. Sy moet deurgesit word, of sy reg is of nie. Toevallig is een van haar vriendinne ‘n onderwyseres by die skool waar Jordan was. En sy het Jordan se evaluering gedoen toe hulle haar daar ingeskryf het. Glimlagkind kontak haar en die antwoord is:

Jordan is formeel uit die skool gehaal na die ouers die keuse gehad het om hulle kinders terug te stuur skool toe of aanlyn aan te gaan met hulle klasse.

Ek dink nie daar is genoeg berge om op my te val nie, My kop is heeldag besig. Moet ek my kleinkind wegvat by haar ouers en by my laat bly? Kan ek haar inskryf in Glimlagkind se skool en die volle verantwoordelikheid daarvan op my vat? Glimlagkind se skool is op my pad werk toe. Ek sal net baie vroeëer moet opstaan. Sy kan naweke huis toe gaan. Ten minste is haar stiefniggie ‘n leier en sal sy na haar omsien.

Of moet ek dit net los. Moet ek net baklei en slegsê? Moet ek nie probeer om die Ma in te kry by die staatshospitaal se psigiatriese afdeling nie sodat sy ten minste haar medisyne kan kry nie? Wat moet en kan ek doen om my kleinkind uit haar situasie te red?

Of moet ek my seun wat verslaaf is aan rekenaarspeletjies (37jaar oud) met die vuis gaan bydam. (Ek het jare gelede hom eendag met die vuis gemoker) Want hy het dit toegelaat. Hy laat toe dat sy baie manipulerende vrou hom om haar pinkie draai. Hy kyk nie dat sy kind se werk gedoen is nie.Hy aanvaar maar net wat hulle sê sodat hy kan ontvlug na een of ander fantasie wêreld

Soos ek nou hier sit en skryf dwarrel my kop. Ek wil moor. Ek wil jammer kry. Ek wil iets doen. Miskien iemand kry om die huis te gaan springclean wat bitter selde skoongemaak word. Ek wil die welsyn bel. Ek wil self Breinlyn bel om seker te maak hulle het haar geregistreer. Ek wil haar daar wegvat. Maar my eie situasie is onseker. Ons weet nie wat met ons gaan gebeur in hierdie nuwe jaar nie.

Gelukkig het ek nie die krag of mag om groot dinge te doen nie. Anders was ek dalk nie vandag hier om hierdie swaarheid neer te pen nie. Die tweede ergste ding wat ‘n ouer kan oorkom,is daardie absolute teleurstelling dat die opvoeding wat jy gegee het na die beste van jou vermoë geen invloed het nie. Dit voel soos dekades wat voor die varke gegooi is.

Daarom is ek swaar vandag. Baie swaar. Veral aan die een kant.

22 comments

  1. Woordnoot. GEEN ouer kan die verantwoordelikheid aanvaar vir hulle kinders se besluite wat hulle maak nie. You have to count the cost of the decisions you make in life. Elke een vir homself, jy kan niemand blameer vir jou keuses nie, dit het ek baie hard geleer. Maar ek verstaan jou swaar hart ten volle.

    Liked by 3 people

  2. Woordnoot, ek is laaste om te praat, maar ek dink Frannie is reg. Dink aan jou en bid vir rustigheid vir jou siel sodat jy jou antwoord kry. Wees net daar💜🙏🌻

    Like

  3. My hart bloei vir jou. Maar Frannie is reg. Bly ‘n ouma. dit het ‘n sielkundige vir my pa gesê toe hy my dogtertjie help grootmaak. Wees streng, maar wees ‘n oupa. laat die “straf” oor aan mamma.
    Maar dan is ek ook een van die onderwysers wat moet besluit wat is die beste vir ‘n klein kindjie met ADHD – veral as die ouers nie saamwerk nie. Gaan ek die kleintjie bevoordeel of benadeel deur hom aan te stuur? Gaan ek bemagtiging kies deur nog ‘n kans te gee om ontwikkelingswerk vas te lê of gaan ek frustrasie en gevoel van verloor kweek omdat ek bloot aanstuur? Dis waaroor ek elke keer bid as ons kinders bespreek in die skool.

    Like

    • Ek beny jou nie jou werk nie. Ek weet hoe erg dit is. Het twee onnie dogters. Mens se hande voel net so afgekap. Dankie dat jy een van die is wat doen wat reg is.

      Like

  4. Woordnoot, my hart gaan uit na jou. Dis nie maklik om magteloos toe te kyk nie, maar moenie ingryp nie. Wees liewer die sekuriteit waarop die kinders en kleinkinders kan terugval en maak seker hulle is bewus van jou potensiaal.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s