Plaasvroue, ouethuisvroue.

Huis Bron van Heil. Die ouetehuis op Heilbron, gebou op die walle van die Uniefeesdam. Toe ons in Mei 2019 die eerste keer daar aankom was ons aangenaam verras. Dis nie die nuwe moderne woonstelle of kamers soos Twee Rivieren, Bougainville aftreeoord of selfs Zambezi aftreeoord nie, maar dis ‘n groot plek. Woonstelletjies vir die wat nog na hulleself kan kyk. Kamers vir die wat meer bejaard is en meer sorg nodig het. Elke vrou het ‘n indruk gemaak maar ek wil net fokus op ‘n paar, vrouens wat vir my innerlike skoonheid, stamina en dankbaarheid wys.

Ek ontmoet ‘n hele paar vroue. Tannie Lu is ‘n dame in die volle sin van die woord. Sy is elke keer deftig uitgevat, haar haartjies mooi gekam en grimering aan. En sy bang nie rooi lipstiffie nie! Sy kan nie meer loop nie omdat haar heupe begin ingee en hulle is gewaarsku dat nie een van hulle nou moet val en iets breek nie, want hospitale is nie nou n lekker plek nie. Met ons eerste besoek was dit twee weke voor haar 80e verjaarsdag. Sy was so opgewonde en kon nie ophou praat van al die familie wat van oral in SA afkom vir haar partytjie nie. Vrydag was sy soos gewoonlik weer spoggerig aangetrek, met die mooiste “headband” van silwer op haar grys hare. Dit het haar kompleet soos royalty laat lyk. Haar kamer lyk soos iets uit die movies. Vars blomme, Persiese matte, swaar hout meubels, Victoriaanse stoele.

Tannie Carol is eintlik Engelsprekend maar sy praat Afrikaans met die mooiste aksent. Sy is “a woman of the cloth”. Sy en haar man het lank daar gewoon en sy was op ‘n stadium die herder van die een Engelse gemeente. Nou is sy oud en bly sy daar. Toe ons haar ontmoet het, was sy nog in een van die woonstelle. Nou het sy in ‘n kamer ingetrek. Haar dankbaarheid nadat sy gepas is met die apparate en die feit dat sy kon hoor, was vir my ‘n hoogtepunt. Sy is so nederig, en dankbaar, Ek is seker sy is amal daar se maat. Want ek kan nie agterkom dat daar een lelike streep in haar is nie. Tevrede met haar omstandighede,

Die tannie wat my hart die meeste geroer het is tannie V. Sy was in haar jong dae seker maklik die mooiste meisie op die dorp, Onthou, elke keer as ons soontoe gaan, trek die tannies mooi aan. Hierdie tannie se man het haar eendag in die kar laat klim en by die tehuis gaan aflaai. ‘n Saak het mos twee kante en mens ken nie altyd die volle waarheid nie, maar uit wat ek kon aflei het hy dadelik ‘n ander vrou in haar huis laat intrek. Kan jy jou daardie verweroing voorstel? Sy is na ‘n baie lang huwelik met ‘n tassie vol klere gedrop by die ouetehuis terwyl die nuwe vrou koningin begin kraai. Vrydag sou hulle twee 49 jaar getroud gewees het. Haar kinders het maar gesorg, maar sy het haar kans gekry en dit goed benut. En ek hoop en bid dat geregtigheid nou vir haar sal seëvier.

Maar dan is daar die ander kant van die vroue se storie. Ons pas ‘n apparaat vir ‘n vrou wat 15 jaar ouer as haar man is. Ek moet op my tande byt om hom nie met ‘n plathand te klap nie. Sy is flippim ouer as jy, jou lummel! En dan het jy die cheek om haar voor vreemde mense af te kraak. “Ja, jy weet mos, ou mense!” Daaraan moes jy gedink het toe jy met haat getrou het, idiot!

Die laaste plek waar ons aangaan, is ‘n plaas tussen Heilbron en Frankfort. Ek het nou al afgelei dat die oom ‘n reputasie het want elke keer as iemand vra hoe laat ry ons terug Pretoria toe, en ons antwoord dat ons eers na hom toe moet gaan, rol hulle hul oë, of sê so onderlangs,,,,,mmmm, Oom M…..Dit voorspel niks goeds nie en dis ook so. In Februarie toe ons daar was, toets Baaskind hom en verduidelik dat hy apparate nodig het. Sy eie woorde: moenie eers met die medies sukkel nie, ek betaal kontant en ek soek die beste. Wat presies so gebeur het. Baaskind en haar man het net voor die lockdown afgery om hom te gaan pas en die geld by hom te kry want hy doen als kontant.

Sy eerste woorde toe hy ons klaar met sanitizer bespuit het wat ek dink van varkspek gemaak is, want dit stink en is taai, is dat hy die goed wil teruggee want hy is ‘n boer en hy sukkel nie so nie. Ek begin saggies bid vir Baaskind want ek weet sy het nou drie Salomo’s se wysheid nodig. Sy verduidelik en praat maar hy bly hardekwas. Sy seun sit met so gevriesde gesig die besigheid en dophou.

Op ‘n stadium sê sy vir hom dat as hy nie nou vasbyt en die apparate reg dra nie, sal hy oor sewe jaar stokdoof wees.

Waarop sy vrou intjip….hopelik is hy teen daai tyd al dood.

Oppad terug huis toe praat ons twee daaroor. Al die paartjies wat ons gesien het, het niks goeds vir mekaar te sê nie. Hierdie is mense wat langer as 30 jaar getroud is. Wat mekaar verkleineer en duidelik haat.

Ons ry in stilte. En ek kan nie help as om te wonder of die huweliks formulier van ouds nie dalk meer van ‘n vervloeking was nie. Want al hierdie vroue het een of ander tyd gesê:

“Ek beloof om my man onderdanig te wees, om by hom te bly deur siekte of dood” Mense raak nie verbitterd of sterf iemand emosioneel af net omdat dit iets is wat hulle besluit het nie. Mense doen goed aan die vir wie hulle lief moet wees soos wat hulle hulsef liefhet en wat hulle moet versorg en bystaan deur alles . Dit gebeur nie en dan is dit die vrouens wat sommer voor twee vreemde mense eintlik die wens uitspreek dat haar man van plus minus 35 jaar tog hopelik moet doodgaan,

Ek wonder as mens op die wye grasperk voor die tehuis, ‘n boom kan plant vir elke bitterheid, wrok en seer, hoe dig die bos sal wees. Ek vermoed daar gaan te min plek wees.

En die grond voor die tehuis is groot…….baie groot.

17 comments

  1. Dalk is dit hoekom ek nie sal trou nie, as Grim aanhoudend lelik is met my, weet hy ek sal loop en ek weet dieselfde. Toeka jare se “in sickness and in health”, het vir party beteken “in shit times and in shittier times”

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s