Roadtrip Vrystaat toe!

Ek en Baaskind was nou al ‘n paar keer Heilbron toe.Dit het per ongeluk gebeur toe ‘n baie tevrede pasiënt haar suster wat daar in die Vrystaat bly, vertel het van ons. Die sussie is een van daardie “doeners” en toe ons weer ons oë uitvee, het ons ‘n hele klomp mense daar wat nou pasiënte is. Ons noem dit so ewe ons ‘sateliet’ praktyk.

Die eerste twee kere het ons by tannie E oorgeslaap. Regte egte boere gasvryheid. Gekookte kos met skaapvleis want daar is skaapvleis se prys nie die van ‘n Merecedes nie. Ander kere het sy sommer net vir die dag deurgery. Dis darem net twee ure se ry. Ons was in Februarie weer daar en het vier nuwe pasiënte bygekry. En nog voor ons hulle weer kon sien om die apparate weer te gaan pas, kondig Prez die noodtoestand aan. En die weke kom en gaan. Toe breek die vlak aan wat ons toelaat om oor grense heen te reis, maar haar Pa se vliegtuig val en ons moet weereens wag. Die wag was nie so gemaklik soos lockdown wag nie. Eers na die roudiens kan ons ernstig planne maak om die Heilbron mensies te gaan besoek. Ons moes ook eers spesiale toestemming kry want niemand mag daar ingaan nie. Maar dis ‘n storie vir ‘n ander keer.

Ek weet nie of dit die feit was dat ons so lank laas kon iewers heen ry nie, en of dit maar net alles was wat van Februarie af gebeur het nie, maar vir my was hierdie roadtrip so anders. Eerstens was die verkeer iets uit ‘n ander wêreld. Gewoonlik as jy half sewe hier in Pretoria ry sukkel jy jou as af om iewers te kom. Nie hierdie keer nie. Dit het vir my gevoel ons het skaars weggetrek uit Pretoria uit, toe is ons al by die pitstop net voor Vereenging. Droom reis. Die padblokkade vir oor-die-grens-reis is aan die anderkant. Niemand stop ons nêrens nie. Sy bestuur gewoonlik op die snelweg, en ek vat oor as ons op die nouer bane ry. Ons hou stil om blesbokke af te neem. Ons het genoeg tyd.

Waar ons gewoonlik almal by die ouetehuis sien, mag ons die keer dit nie doen nie en moet ons na die pasiënte se huise gaan. Ons 1e omie se kleindogter het ‘n geskenkewinkel en klein restourantjie (wat geen kliënte nou kry nie) wat die mooiste goed verkoop. Daar haak ons twee ure vas want die rekenaar wil nie in die Vrystaatse koue saamwerk nie. Ek sien die mooiste stewels, so reg vir kuier in Skotland. En ek koop ‘n fiets prentjie. Na die kuiertjie daar, gaan pas ons die ander twee pasiënte.

Met die wat ons so gesukkel het met die rekenaar, is daar geen leisure tyd nie. Ons planne om terug te gaan geskenkewinkel toe, val deur die mat want ons moet uit ry na ‘n plot toe. Daar wag een van die vriendelikste mense ons in. Marna toets en ek en sy vrou gesels asof ons mekaar al jare ken. Toe ons klaar al die werk gedoen het, staan ons buite en verlustig ons in Lucky, die drie weke ou hanslam se doen en late. Hy hou daarvan dat Baaskind hom optel, want hy kan haar ore suig. HIerdie tannie hou nie van enige iets kriewelrig in haar nek of ore nie.

Ons ry terug dorp toe. Sy het nou begin belangstel in fotografie en ons ry by die Uniefees dam in. Die tehuis se grond grens aan die dam. Maar dis koud en die lig is nie te waffers nie, en my simpel gut feeling laat ons gouer daar weg ry, sonder enige behoorlike fotos. Die son sak. Lieflik. En so begin ons die sakkende son jaag. Ons ry in strate wat lang tyd gelede geteer was, maar wat enige plaaspad sal laat skaam kry, al agter die sakkende son aan. Sy maak wilde draaie en ons lê soos ons lag. Regte Sunchasers. Maar die fotos is pragtig.

Dis tyd om gastehuis toe te gaan, En soos ek al genoem het, ek hou van mooi. Luuksheid en smaakvolle plekke laat my gees wakker word. Die gastehuis is al daai. Ek voel hoe die leë, dowwe, dooie gevoel by my uitsypel en hoe die mooi infiltreer. Stadig maar seker.Ons sit in die koue op die stoep en drink heerlike Landzicht muskadel en eet……KFC!!!! Dis al eetplek wat na sewe nog oop is! Ons kuier op daardie stoep en filosofeer oor die lewe. Oor mans. Oor kinders. Oor verledes. My siel kry hernieude asem. Vars Vrystaat plaas asem wat my weer optel.

96 on Breë Street Gastehuis
Hierdie badkamer het ‘n verwarmer in en handdoek verwarmers…saligheid op note.

Die kuier Vrydag by die tehuis is ‘n blog op sy eie. Vrydag middag,op pad terug van Frankfort af Pretoria toe, bestuur ek oudergewoonte op die nou paadjie. Die pad so om is baie beter as die ene via Alberton. Bietjie langer, maar baie stiller en minder slaggate. Daar kry ek nog nuwe krag. Ek kan ure op die lang pad ry. Dit voed ook my siel Ek verstaan eintlik nie hoekom nie want dis mos maar ‘n gevaarliker situasie. Maar los my agter ‘n stuurwiel en ‘n lang pad, en dis so goed jy gee vir my ‘n glas heerlike sjampanje,

“Sjoe, hierdie karretjie van jou ry darem lekker,” sê ek nadat daar vir so rukkie ‘n gemaklike stilte tussen ons is.

“Ja, ek kan dit sien,” merk Baaskind so ewe droogweg op.

Dis toe dat ek op die spoedmeter kyk en my amper in ‘n ander bloedgrope in skrik. 140km. Demmit!

As sy my nooit weer laat bestuur nie sal ek verstaan. Mens doen dit mos darem nie met iemand anders se voertuig nie! Maar dit was lekker, so tussen ons.

HIerdie trippie was goed vir ons albei. Goed vir ons siele, ons verhouding, en ons emosies. Soos ek gister vir iemand se wat my vra hoe dit gaan. Dit gaan goed. Twee dae se wegbreek het my vernuwe. Ek sien nou weer kans,

23 comments

  1. Dankie Scrapy…ek is gelukkig geseënd in die opsig dat as ek uit die huis stap. los ek die huis net daar. En as ek by die werk uitstap los ek die werk net hier. Dit het die wegbreek soveel lekkkerder gemaak want al het ons gewerk, die regte werk en huise was nie saam ons daar nie.

    Like

  2. Ek het vir sewe jaar lank in die Noord-Kaap en Vrystaat so rondgery, op ‘n daaglikse basis. Meesal dagtrippies maar soms het ek vie Karen uit die skool gehaal en dan het ons so twee of drie nagte uitgeslaap. Dit was heerlike tye in ons lewe waarna ons nou nog verlang.

    Like

  3. Ek verlang na die langpad, verkieslik alleen, ek, kar, musiek en gedagtes. Ek kan ook so vinnig ry en dan wakker skrik en dit eers sien.
    Die trippie saam met julle was lekker hoor en daai gastehuis pragtig

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s