Lipstiek

So tydjie terug het een van die Towerinne iets gesê van lipstiffies. Ek haal nou myne uit om my lippe bietjie in te kleur, maar weet ek mors eintlik nou vreeslik, want die meeste daarvan beland mos maar nou op die maskers. Tog is dit een van my verslawings en ek dink nie dis so erg nie.

So gaan eet ek en my sus voor sy weg is, eendag iewers en toe dit nou huistoe gaan tyd is, haal ek my lipstiffie uit. Dis nie die regte ene nie en ek haal ‘n ander een uit. Nou hoeveel lipstiffies het jy daar in jou handsak? Ek begin uithaal.

Ses… sewe…agt…nege…tien…elf!!! Sy skud haar kop, duidelik dink sy ek is mal. Daar is ‘n ligte koraal, donker koraal. Helder rooi, donker rooi. Sjokolade bruin..(is dit myne want ek hou niks van bruin nie??) Ligte pienk, roospienk, donker pienk, losvrou pienk (huh?)

Elke keer as ek lipstiffie aansit na ‘n kuier, kom die volgende herinnering by my op. Ek was die leier van ‘n dames oggend selgroep. Ons het altyd eers koffie gedrink en gekuier. Dan het ons begin sel groep hou. Die oomblik as ek gaan sit, het ek eers my lippe geverf. Dis instelling, soos party mense met LipIce maak. So kom ek agter dat al hoe meer vrouens dit begin doen. Dit word ‘n ritueel. As ons sit, lipstif ons eers en dan begin ons ernstig raak. Daar was ‘n ouerige Duitse tannie saam met ons. Tannie Heleen Heinen. Sy het die dames aangepor met haar sterk Duitse aksent. “Its time forgh lippe aansit!” Dit het ‘n selgroep kenmerk geword.

So rukkie na my man oorlede is, kuier ons een aand. ‘n Klompie vriendinne wat net saam kom en kuier. Ons is soos ‘n Smartie boks. Elkeen het hulle nukke, grille, giere en goedhede. Ons eet lekker en drink wyn en kekkel. Ek sit natuurlik weer lippe aan. Die een vrou kyk aandagtig hoe ek sonder ‘n spieel my lippe perfek inkleur. Ek het op daardie stadium deur ‘n moeilike tyd gegaan. Terwyl ek so verf, sê sy uit die bloute vir my.

“Ek sien ‘n prentjie van jou. Jy kom uit ‘n oorlog uit. Jou klere is geskeur, jou hare deurmekaar. Jy is vuil en vol wonde. Maar jou lippe is rooi. En dan verander jou prentjie. Jy het ‘n pragtige lang rok aan, jou hare is skitterblink en jy blom, nog steeds met jou rooi lippe”

Daardie prentjie het nog al die jare by my gebly. Na die chemoterapie het ek geweet dat ek nog steeds iemand moet kry om daardie skildery van my te maak. Die vuil gewonde vrou sonder hare, met rooi lippe wat in die spieel kyk en die skoon, nuwe persoon sien.

Dis nou al 20 jaar later. Ek het nog steeds altyd lipstiffie byderhand ( soos Sus kan getuig) Maar ek moet nog die skildery kry. Eendag…..eendag sal iemand my ware lipstif prentjie op doek vaslê. Tot dan sit ek maar lippe aan, al is die masker die een wat dit eintlik nou dra.

35 comments

  1. Ek bewonder vrouens met perfek ingekleurde lippe, ek sit myne een keer per dag aan. Nourie dag besluit ek op rooi, na ek in die winkel was, haal ek masker af en ek lyk soos ‘n propperse clown, blykbaar werk rooi nie so mooi saam met die maskers nie

    Liked by 1 person

  2. Wow – kannie wag om die skildery te sien nie! Ekself is vreeslik lui vir enige grimering maar my Moeks sal nie gaan pos uithaal by die voorhekkie sonder haar lipsel nie. Sy is ook ‘n baie slim en sterk vrou. Mens moenie ‘n vrou op haar lipsel takseer nie hoor! (Na aanleiding van jou losvrou pienk!) 😉

    Liked by 1 person

  3. Ek sit lipstiffie aan in die kar, net voor belangrike vergaderings.Net om te wys ek kan. En dan kou ek dit af voordat die vergadering begin. Ek het jare gelede gereeld lipstiffie gedra. Wat het gebeur? O ja, die lewe het in die pad gekom.

    Liked by 1 person

    • Jip dis waar. Ek het kaalkop geloop tydens my chemo en net helder lippe en groot oorbelle aangesit…..dan het ek soos n poster girl gevoel

      Like

  4. Jy laat my aan my oorlede sus dink… nooit uit haar kamer gekom voordat sy ingekleur was nie. Deur die dag het sy gesorg daardie lippe bly rooi. Waar koop ‘n mens daardie lipstiffie wat nie sommer so verdwyn nie?

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s