Lady and the Tramp..’n Covid liefdesverhaal.

Thor en Rogue is twee regte, egte, opregte Duitse Herdershonde met ‘n stamboek wat ampertjies so ver teruggaan as Jan van Riebeeck s’n. Hulle woon in ‘n voorstad aan die noordekant van Johannesburg maar deel die huis met agt katte (waddehel ala Hester!) en twee tweebenige mense. O ja, en natuurlik is daar nog Harley ook. Harley is nie heeltemal opreg nie want haar ma het ‘n verhouding gehad met een hond van ‘n ander ras. So sy is wat die geleerdes sal sê, gekruis. Daar heers baie vrede onder al die diere. Dis net Thor wat sy alie wip as hy lekker by Pa op die bank lê en skielik die woord “lockdown, Covid, social distancing en sanitizers” op die TV hoor. Dan spring hy regop en draai sy rug op die gemompel wat uit die kassie kom.

IMG-20200519-WA0081

Shadow kom van ‘n ander deel van Johannesburg af. Sy bloedlyn lyk soos ‘n padkaart. Die lyne kruis sommer so dwars. Hy is nou in hegtenis geneem omdat hy Antie Zuma se hoendertjies doodbyt. Maggies man! Besef die mense nie dat as ‘n man honger is en so lekker vet hoendertjie pik pik so hier naby jou, dat jou adrenalien inskop nie? Maar nou is hy in ‘n plek van veilge bewaring vir diere geplaas. En hy is bang.

IMG-20200520-WA0000 (2)

Die gedagte om daar in ‘n hok vasgekeer te sit was baie erg. Hy het heelpad verwoed baklei in die hok. Maar by die nuwe plek was daar vars water. Nie vrot water wat in potholes  vir weke lank lê nie. Hy was ook eers skepties oor die bak met klippies wat hulle hom gegee het, maar verrassing! Die klippies was sag en baie lekker. En net toe Shadow besluit hy sal hier kan bly, kom die nuus dat die skuiling toe moet maak. En Shadow weet hier is moeilikheid.

Sy verbasing was baie groot toe ‘n vrou na sy hok toe stap en sê sy sal hom solank in pleegsorg neem. Hy is saam met haar huis toe.  Hy het sku uit die motor geklim, want die verwelkomings kommittee het op hom gewag. Onthou, drie honde, agt katte en twee muskeljaatkatte wat in die bome bly. Al was hy nou ander diere om hom gewoond was hy baie bang en verward. En etenstye was skielik ‘n probleem  want hy het syne sowel as die ander honde se kos alles op een slag probeer eet. Rogue en Thor het hard in Duits met hom geraas. Die Ma  het hom vir ‘n rukkie apart kos gegee.  Een aand toe hy eet, stap Harley oor na sy kant toe. Harley het van die eerste oomblik af sy hart gesteel. Maar hy weet hy kan haar niks bied nie. Hy is ‘n pleegkind wat enige dag terug moet gaan na die skuiling toe. Maar as sy vir hom kyk, klim sy hart by sy ore uit.

“Shadow, jy kan maar stadiger eet en ontspan. Geniet die kos. Jy sluk net af sonder om te proe. Jy sal elke dag kos hier kry.” Haar sagte stem is soos musiek in sy ore. Van toe af het hy elke happie kos stadig geëet en dit geniet. Hy het Harley se geselskap opgesoek. Dis nou as sy nie eerste by hom was nie. Die band tussen hulle het gegroei en hulle het vir mekaar lief geword.  Baie lief!

Een aand terwyl almal weer in die TV kamer sit en ontspan, vlieg Rogue weer op en draai sy rug na die TV toe. Almal se aandag is dadelik by hom. Dis die oomblik waarop Shadow gewag het. Maar Harley was ook gereed…….. “And then he kissed me!!!!

IMG-20200519-WA0079

Dammit! Wie het nou geweet dat Rogue se geraas NIE die Ma se aandag getrek het nie maar wel hulle twee se skelm soen? Wel, die aap is nou uit die mou. Shadow is nie meer net ‘n skaduwee nie. Hy  gedy onder al die liefde en aandag. En hy en Harley is nou ‘n “item”. En die heel belangrikste feit is dat hy nou permanent by Harley gaan wees. Hy is aangeneem. Hy hoef nooit weer in stofstrate hoendertjies rond te jaag nie.

Forever and ever. Lady and the Tramp, tydens lockdown, in Johannesburg. In werklikheid…nie animasie nie!

11 comments

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s