Handskoene

Ek gaan grawe in my kas en kry die boks lateks handskoene wat ek seker tien jaar terug gekoop het. Dis mos nou sulke tyd!. Kwaaikind het vir ons elkeen twee paar blou (nuwe) handskoene gegee. Onthou, ons is in die gevaar zone! Ons is nie van plan om iewers heen te gaan nie, maar saam met die oues het ons genoeg handskoene vir die hele jaar!

WhatsApp Image 2020-03-30 at 11.20.55 (1)

Soos ons almal maar doen, hou ek myself besig met kaste regpak en ek was sommer gordyne. Vanoggend haal ek die sak uit my kas wat doer agter lê. Ek skud dit uit en kry die silwer sjaal wat ek nou al 45 jaar bêre.Ek was in standerd nege toe my pa ons een jaar “uitgevat” het. Ons het lang aandrokke gekry. Ek het ‘n silwer sjaal (die ene in die foto), saam met silwer handskoene en ‘n aandsakkie gekry. My sus en ma het goud gekry. Ons is na die Bloukamer restaurant toe op die Johannesburg stasie en daarna na ‘n teater in Hillbrow (ja, ek weet!) Dit was oujaar, en ons het dit in styl gevier. Die fliek (ons 1e keer in ‘n groot fliek) was Singing in the rain met Fred Astaire en Ginger Rogers.

Maar ek skud die sak en die volgende val uit. Ek het dit alles saamgesit op my silwer sjaal.

WhatsApp Image 2020-03-30 at 11.20.55

Dit was almal my ma s’n. En vir ‘n oomblik wonder ek oor dit. Sy het nogal daarvan gehou om mooi aan te trek. Ek kan net glad nie onthou dat ek haar dit ooit sien dra het nie. Handskoene is immers al baie jare gelede uit die mode… (Tot met die Virus en nou is dit plêstiek) My verbeelding gaan op loop en ek plaas myself in daardie tyd toe handskoene nog ‘n mode bykomstigheid was.

WhatsApp Image 2020-03-30 at 11.20.53 (1)

Hierdie satyn paar was vir die Sondagoggend diens. Ek sien dieselfde kleur rok net so op die knie, sykouse en wit skoene. Die hoed en handsak sou ook wit gewees het. Die kleure van kalmte en reinheid. Geen fieterjasies nie. Kerk was immers kerk!

WhatsApp Image 2020-03-30 at 11.20.53

Sagte satyn  appelkoos, met ‘n strikkie op. Bietjie meer informeel? Mmm, dis daardie dag toe daar ‘n “High noon” teepartytjie onder die eike bome gehou is. Die rokkie is ‘n donkerder skakering van appelkoos en die skoene en handsak is beige. Geen hoed vandag nie. Ons gaan immers komkommer broodjies eet!

WhatsApp Image 2020-03-30 at 11.20.51

Langer en wit. O ja, dis spesiaal gehou vir begrafnisse. Die hele uitrsuting was pikswart. Hoed met ‘n sluier, swart rok onder die knie en swart kouse en skoene. ‘n String wit pêrels en dan die wit handskoene. Dalk was die simboliek dat daar met afsterwe tog nuwe lewe voortkom? Soos saad wat in die grond geval het.

WhatsApp Image 2020-03-30 at 11.20.52

(Hierdie is my eie, wat ek saam met die sjaal bêre) Dit was vir daardie skemerkelkie aande. Nie heeltemal formeel nie, maar darem met genoeg glamour. Die rok sit styf, bokant die knie. Vleeskleurige sykouse met silwer hoe hak skoene en die fyn geweefde handskoene, saam met die silwersjaal en silwer handsakkie (wat gesteel is). Die martini glasies word grasieus van skinkborde afgetel met die handskoene.

WhatsApp Image 2020-03-30 at 11.20.50

Jip! Daardie formele ete! Die goue aandrok is laag gesny maar wys nie te veel nie. Wil darem nie soos ‘n goedkoop tert lyk nie! Goue skoene en ragfyn goue handskoene, . Die diamant halsnoer glinster om die nek, met bypassende oorbelle wat in traadruppel vorm hang. Hare is hoog opgedoen, in die klassieke Beehive styl. Koningin mooi.

WhatsApp Image 2020-03-30 at 11.20.54

En die???? Rooi??!! En glad nie stylvol nie. Kan sweer dis van T shirt lap gemaak? Dit pas nie by die fyn handskoene in nie. My verbeeldingsvlug word gekanselleer as ek dit aantrek. Dit voel verkeerd. DIt voel amper soos die lateks bloues. Ek trek dit uit en sit dit eenkant. Dit het my verbeeldingsvlug gekelder. Amper iets soos Aspoestertjie. Daai aanpas van die rooies.

Die nostalgie is weg. Die werklikheid is terug en die redes hoekom ek op ‘n Maandag oggend kaste regpak in plaas van werk in die praktyk, is realiteit.

Blou plêstiek is blou. Dalk, net dalk, as daardie mode nie uitgefasseer het nie, was ons vandag almal nog veilig? Wie sal weet.

Laat jou verbeelding bietjie op loop gaan en deel met ons hoe en waar jy die handskoene sou dra! Die mooies, man! Nie die lateks goete nie!

12 comments

  1. Ek het nou my ma se hanskoene en hoede onthou. Ek het ‘n hoed kerk toe gedra onder groot protes en wou nooit aan ‘n handskoen raak nie. Haai, ek seker ‘n vreeslike teleurstelling vir my ma. Ek dink ek is ‘n hippy, gebore en getoë. Maar mooi bly mooi en ek kan my so verkyk aan die kleredrag in die outydse flieks.

    Like

  2. Jy het my nou baie ver teruggeneem, na die dae toe ek selfs met handskoentjies gaan fliek het! Sou daardie rooies by ‘n wit-en-swart winterspakkie gedra het, dalk met ‘n rooi hoedjie daarby ❤

    Like

  3. Handskoene in daardie fyn formaat was maar altyd ń verlede ding vir my, iets wat jy in ń outydse fliek sien. Die hoede onthou ek alte goed. Die tante wat voor jou in die kerk sit met haar breë rand hoed, dat al wat jy kan sien is hoed.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s