Ja, ek het moet nog skryf. Nog seer uit my gestel kry. Alhoewel hierdie skrywe nie oor my persoonlik gaan nie. Ek vind dat skryf oor goed partykeer onverwagte antwoorde bring. Nuwe aanduidings gee. Die Oom is weer vandag se onderwerp.
Hy was ses toe hy een middag van die skool afkom. Ma weg, saam met sus en boeta wat jonger as hy was. Weggeloop saam met Pa se boetie. Hy is kwaad, seergemaak want hoekom het sy hom nie saamgevat nie. Toe ek hom ontmoet vertel hy my sy pa was hierdie wonderlike man. Nietemin, hy bly alleen agter saam met drie ouer sussies. Heeltemal ongebalanseerde verhouding. Sy pa maak hom groot maar is hierdie outoritêre persoon wat niemand se teëstand duld nie – dis dalk hoekom ma weg is?? Die invloed wat ‘n ma op haar seun se lewe het, is weg. Op hoërskool ontmoet hy ‘n meisie en hulle trou. Drie kinders word gebore. Agtien jaar later skei sy hom omdat hy ‘n Ponzi skema begin het en die geld alles gaan uitdobbel het. Ek hoor haar kant van die mislukte huwelik eers November . Ek hoor van al die seer wat die kinders opgedoen het, van wraak oproepe, aanvalle op vroulief en die kinders. Die hele prentjie verander.
Verlede Vrydagaand sit ek alleen in die studeerkamer en luister musiek terwyl ek my toonnaels groen verf. So jade kleur. Hy kom sit by my. En begin praat. Vertel my van die oggend se mannegroep se sprekers. Mans van sy ouderdom wat ander mans help om die trauma van die bos oorlog uit hulle sisteme te kry. Ek vra hom hoekom hy nie ook met een van hulle gaan praat nie want ek het al uit vorige gepsrekke agtergekom dat hy daardie tyd ook baie trauma beleef het.
Die woorde begin uitrol. Hy vertel my van sy weermag dae. Hoekom hy nooit met enige iemand daaroor kan praat nie. Hy was deel van ‘n groep hoogs gespesialiseerde persone wat hulle weermag dae met jeans, tekkies en lang hare deurgewerk het. Hy vertel my dinge wat ek nie mag oor vertel nie. Al is ons al 25 jaar in die “nuwe Suid Afrika” kan sy werk wat hy gedoen het in daardie vreeslike tyd, hom en sy hele familie in groot moeilikheid laat beland. Soos in geheimsinnige afsterwes, ongelukke ensovoorts. Hy vertel van sy opleiding. Van sy werk. Vir my voel dit asof ek na n storie luister. Onthou julle die “Vierde kabinet” Insidente wat dit eintlik na ‘n James Bond fliek laat klink. Straatname wat nou onlangs verander is, kry lewe…hy vertel die stories.
Lank nadat hy gaan slaap het, werk my kop oortyd. En die ongelooflikste hartseer kom oor my. Almal, insluitend sy kinders….veral sy kinders, dink aan hom as hierdie plofkoppie wat krities is, mense nie na aan hom toe laat nie. Min mense hou van hom. Sy kinders verdra hom net. Maar ek wonder of hulle anders oor hom sal dink as hulle weet dat hy eintlik ‘n baie fyn opgeleide mensekenner is. Israeli en Duits opgelei. Hulle sal nooit trots op hom wees dat hy baie aanvalle op die publiek in daardie jare, gekeer het nie. Omdat hy op die brose ouderdom van 20 ‘n rewolusie moes keer. Omdat hy mense wat bose planne soortgelyk aan die Kerk straat bom kon uitvang voor die terreur plaasgevind het nie.
Hy lyk al hoe meer vir my soos die sesjarige seuntjie wat op die stoeptrappie sit en huil omdat sy ma en jonger sibbe weg is, en sy hom gelos het.
En eers as hy die dag in die aarde insak, sal ek sy kinders kan vertel dat hy eintlik ‘n held was. Maar ek dink nie hulle sal dit kan waardeer of verstaan nie, want die lewe was soveel anders toe hulle grootgeword het. In hulle oë.
Dis te sê as hy voor my gaan….anders gaan sy storie onvertel bly…en gaan sy kleinkinders met die grootword met wat hulle nou van hulle oupa sien……iemand wat maar net is, wat nooit eintlik iets bereik het nie. Wat hulle ouers seergemaak het, verneder het.
Hoe freakin hartseer is dit nie…..dis die seer in hartseer.
Ag hoe hartseer is ek nou oor daardie ou seuntjie. En ek is so baie bly dat daar iemand soos jy in sy lewe is ❤
LikeLike
Ai Frannie…..daar is altyd daai iets in elke mens
LikeLiked by 1 person
Ai Woordjies, hoeveel sulke manne loop rond. Hoeveel volwassenes is eintlik klein seer kindertjies vasgevang in ‘n grootmens lyf. Mag jou Meester se liefde in en deur jou na hom uitreik en genesing bring sodat sy me se hom kan liefhê voor dit te laat is en baie spyt oor hul voete lê
LikeLike
Ai Bondels…ek stoei met daai ene….die kinders is so verbitterd….agteraf spot hulle met hom….en eintlik weet hy als. Ons het biki gepraat en ek was geskok om te hoor wat hy van elkeen van sy kinders weet deur net te kyk na hulle optredes tussen vriende en familie
LikeLike
Sjoe, jy laat mens nou hartseer so op ‘n Sondagoggend. Hulle was nog kinders toe dit gebeur het. Hierdie mans van ons is deur dinge wat hulle lewens beïnvloed, nog steeds.
LikeLike
Jip kinders wat goed moes doen en hulle kinders het ook gely en so gaan dit aan en aan
LikeLiked by 1 person
Ek stem Woordnoot, ek stem.
LikeLiked by 1 person
Ek huil vir hom … en vir jou … en vir al die ander ou manne wat grootmenswerk moes doen toe hulle eintlik nog kinders was
LikeLike
En wat die ding so erg maak vir hierdie mans is dat hul voel dit was vir niks….
LikeLike
Dis tragies, hierdie storie en hierdie tonele wat homself in so baie huise herhaal het oor die laaste dekades. Dis die ding waaroor ek die meeste treur in my eie lewe – nie die lewe wat skeefgeloop het nie, maar die wonderlike lewe wat kon gewees het as …
LikeLike
Ai Hester….daar slaan jy nou die spyker op die kop….dis presies net so
LikeLiked by 1 person
‘n Bose kringloop van seerkry kinders wat as grootmense hulle kinders seermaak…. Ek kry daardie seuntjie so jammer. Hoe anders kon sy lewe nie verloop het nie.
LikeLike
Ai WoordNoot, soveel mense wat met soveel seer deur die lewe loop. Ek is bly hy het met jou gepraat, dis nodig vir hom asook vir julle verhouding.
LikeLike
Ons stap maar albei die gesondword pad…
LikeLike
Maar julle stap hom nog saam, dis die belangrikste.
LikeLiked by 1 person
Dit is ń seer storie, daardie arme ou klein seuntjie. Hoe jammer dat sy kinders nie weet nie.
LikeLike
Jip…en hulle stel ook nie belang nie. Maar as hy 7uur pnpay toe kan gaan om hulle inkopies te gaan doen is hy belabgrik genoeg.
LikeLike
😢😢😢
LikeLike