Die seer in hartseer Deel 1

Vandag is die dag waarop daar dinge in ons familie gebeur. ‘n Aarskuddende affêre. Maar daaroor sal ek anderdag skryf. Vandag wil ek my hart oopmaak oor iets anders.

Almal wat my blog volg, weet dat ek nie die gelukkigste huwelik het nie. Alhoewel gelukkig ook maar relatief is. My idee van geluk en joune verskil totaal. Nietemin, ek het eintlik oop oë in hierdie derde ene ingestap. En het heeltemal uitmekaar geval, ‘n persoonlikheidsverandering ondergaan en depressief geraak toe ek uiteindelik agterkom dat die oomblik van waarheid is hier. Vir die afgelope ses jaar het my huwelik ‘n Slip-and-slide betree. Een oomblik regop gestaan, om net die  volgende oomblik plat op my gesig te lê.

Julie verlede jaar het die sweer oopgebars. Ek is direk gekonfronteer dat ek nie meer lief is nie. En ek het dit nie ontken nie. Dit was immers amper op elke bladsy in my joernaal aangeteken. Die joernaal wat gelees was toe ek in Heilbron was en oorgeslaap het. Die dag het ontplof en baie seer en kwaad is in die atmosfeer losgelaat. Ons was by die kruispad. Alleen of aangaan. Maar die fisiese besluit het nooit gebeur nie. Dit was asof die praat, skree en huil die lug gesuiwer het. Dinge het bonatuurlik genormaliseer en na ‘n gesprek met onse Bondels het ek standpunt ingeneem. En wonder bo wonder het daar een of ander vredestilstand gebeur. Ek is ontslae van woede, vrese. My gemoed is weer soos dit jare gelede was. Ek praat dadelik as iets pla. Ek sê ook my sê. Ek laat nie toe dat enige iets in my binneste lê en gis nie.

My aksies het so baie dinge verander. Verlede jaar hierdie tyd het ek my eie woonstel gesoek. My budget uitgewerk. Gewag vir die volgende “vat jou goed en loop”. Ek het ‘n bankrekening oopgemaak sodat ek my eie neseiertjie kan opbou. My lys van wat ek vat as ek gaan. Alles in die huis so uitgesorteer en gepak dat ek binne minute alles wat “myne” is, kan pak en gaan. Planne op my eie gemaak. Die weggaan saam met Sus Skotland kon nie op ‘n beter tyd gekom het nie. Twee weke van geen klip om die enkel nie.

Januarie 2020 breek aan. Bondels gee my die volgende skrif (dankie vir jou volgehoue gebed!)

Isaiah 46 verse 4 – Even to your old age,I am He and even to gray hairs I will carry you. I have made you, and I will bear.Even I will carry and will deliver you.

Sonder dat ek besef, verander my gesindheid. Waar ek altyd reg was met ‘n bytende opmerking of antwoord, tel ek my woorde (sonder dat ek daaroor dink) en ontlont elke keer siuasies. Die Oom kom dit agter en sy byte raak minder. As hy ‘n opmerking maak wat my vroeër inmekaar laat krimp het,  is ek reg met ‘n counter opmerking, en ons lag altyd daaroor. Ons kon van dag een af vreeslik lekker saam lag. Ons doen dit weer. As hy vir my sê ek is ‘n dik bus, dan vra ek of Oros wil saamry. Partykeer gebeur dit dat hy sprakeloos is.

Hy weet ek is nie meer lief vir hom nie. Hy het dit aanvaar. Hy kry swaar en sal so nou en dan iets daaroor sê. Maar ek gaan ook nie ‘n kunsmatige liefde aankweek nie. Ons is nou op die stadium dat ons beste vriende is (wat ons van die begin af was en moes gebly het). Ons leef in vrede en harmonie. Ons lag. Ons praat weer. Vir my is dit genoeg. Ek laat nie meer die abuse toe nie. Sodra hy skerp raak, maak ek hom op ‘n kalm manier stil. As hy goed doen wat my irriteer, sê ek dit vir hom maar laat hom toe om dieselfde aan my uit te wys. Ek vat die hou op die ken en byt nie terug of verduidelik of verontskuldig nie.

Maar dis nie omdat ek so oulik is nie. Dis omdat ek met ander oë na hom kyk. Dieselfde oë waarmee Jesus na die blinde man, die weduwee wat langs haar seun se kis, die sondaar wat langs Hom gehang het, gekyk het. ‘n Empatie in my hart teenoor ‘n ou man wat na al die jare nog steeds die verlore seuntjie is.

Genade…genade wat elke oggend nuut is. Nie net vir my nie, maar ook vir die om my. Om die waarheid te sê, ek dink ek het groot geword die afgelope jaar. Ek vernuwe my denke daagliks. Nie net oor my verhouding met God nie, maar ook my verhouding met die naaste aan my. Die afgelope paar dae se histerie het dit onderstreep. Wees genadig met mekaar. Genade kos niks.

So vir nou tot en met vandag…is daar geen planne om my eie potjie te krap nie. Ek begin al hoe meer verstaan hoekom my paadjie so uitgelê is, en dis wonderlik bevrydend.

Treintrokke vol genade vir julle wat dit baie nodig het. Laai daai genade af. Kry jou vrede terug.

Per slot van sake…..ons het nog steeds altyd ‘n keuse……

10 comments

  1. Hoe warm klop my hart nou van dankbaarheid oor julle twee, WoordNoot. Dis goed vir almal van ons om so ń getuienis te hoor, veral vir diè van ons wat jou moeilike paadjie al vir ń rukkie ken. Ons God is groot en goed. Altyd.

    Like

  2. Sjoe ek is so bly hieroor Woordjies, jy het die regte keuse gemaak en betaal die prys daarvoor. As jy saggies binnetoe kyk, sal jy sien…as jy dit toelaat, sal die liefde weer groei. Dis immers Liefde wat jou help kies het, Liefde wat jou laat groei en Liefde wat jou uit eindelik weer sal laat lief hê…

    Liked by 1 person

  3. Ek van opinie dat die hele “happily ever after”, 100% glad nie bestaan nie. Die beste waarvoor jy kan hoop is iemand waarmee jy kan praat, waarmee jy jou lewe kan deel. Liefde is relatief

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s