Wat vat mens?

Gisteraand het ‘n paar blogmaats hierdie frantiese voicenote van my af gekry. Ek het net geweet ek moet die mense wat na aan my is,vra om te bid want dit was nodig!

Ons woon in ‘n redelike lang straat. Ek spot en sê dat as jy van oos na wes ry, is al die rykmanshuise aan die linkerkant en ons wat finansieel in n ander klas val, se huise is aan die regterkant. Die huise aan die regterkant is duette waar daar so 4 op een groot erf gebou is. Ons het die jackpot getref want die groot valve (en ek weet nie wat is die afrikaanse woord daarvoor nie) is in ons oprit geinstalleer. Dis ‘n reuse ding want sien, teen die berg aan die rykes se kant, is die reservoir gebou. Die pype wat die water na al die areas toe moet vervoer kom dus by die aansluitingspunt in ons oprit bymekaar.

Toe ek gistermiddag tuis kom spuit daar water by een van die aansluitingspype uit. Verrassend genoeg is die spanne van Tshwane se water afdeling vinnig daar. Tot die “backactor” wat daai 30 sentimeter dikke sement deksels fynkou is gou op die toneel. Hulle sluit nie eers ons water af nie. Ons gaan bad en ek begin lees. Die volgende oomblik begin die huis dril. Ek hoor my breekgoed teenmekaar klap. Die Oom storm uit die studeerkamer uit want die gedruis en gedril is so erg dat die fotorame teen die muur klap. Hy is uit. En ek hoor die manne wat daar buite werk se stemme word al hoe meer gespanne en harder. Vier manne draai met ‘n instrument en gil aanmekaar: Hurry, hurry! Ek loop uit. Die voorman stap so entjie weg van die groep af. Hy sê vir ons dat hy dink dis veiliger as ons ry. Ek vlieg om en hol kamer toe. Ek trek dadelik n jean en themp aan. My kop werk in die hoogste versnelling.

Waddehel (met permissie Hester) vat mens en wat los jy. En intussen word die gedreun al hoe harder en hoe harder dit word, hoe meer benoud raak die stemme. As daai ding bars, is hulle saam met ons. Die vorige voorman wat eendag daar gewerk het, het ons ingelig dat as daar fout gaan met daai kontrepsie sal hulle ons en al vyf die huise om ons, se mense in Zambesi pad optel. Dis sowat ‘n kilometer weg. Ek wonder vir ‘n oomblik oor die angs wat daardie manne ook nou moet deurgaan.

Ek vlieg letterlik deur die huis. Gryp sakke en gooi in.Laptops, fone, tablette, chargers. Medisyne. Ek stoot letterlik my arm in en swiep alles in die sak. My grimering. Tandeborsels. En daar slaan my brein toe. Want skielik is dit stil. En dan hoor ek die gejuig….daardie selfde paniekerige stemme is nou jubilant! Die valve is oop….die water kan nou in al die ander pype invloei! Die dreuning bedaar. Die trilling is weg. Die Oom kom in die huis is. Ek sien dat hy maar wit in sy gesig is. Hy het ook ingespring en daai toestel gedraai. Hy kyk na alles wat by die voordeur staan en vra my of ek ons paspoorte ingesit het. Sy sleutels. Sy beursie. Ek het nie. Die paniek was so erg dat ek nie aan dit gedink het nie.

En die besef kom by my op. Ons weet nie wat dit is om te vlug met ons belangrikste besittings nie. Want in daai oomblik gryp jy goed wat eintlik niks beteken nie. Dit laat my dink aan die boervrouens wat net ‘n sekere tyd gehad het om hulle waardevolste besittings te laai voor hulle huise met ander kosbaarhede in afgebrand is. Of die mense in Sirie wat vlug met hulle besittings in skamele bondels. Ons is nie voorbereid nie. Gisteraand kon so maklik in ‘n ramp ontaard het, maar my vriende groep het dadelik begin bid. En ek het ‘n vrees ervaar, wat geleidelik stil geword het. Dis nie dieselfde vrees wat mens daagliks dra oor situaies nie. Dis daai verlammende vrees.

Later, nadat ek alles weer gaan uitpak het, lag ek vir myself oor dit wat ek ingepak het, Ek stuur  weer ‘n boodskap. Die Oom sit langs my en hy lees dit. Hy begin lag. En hou nie op nie. Ek besef dis die verligting ook. Ek moet sê ek het hom lanklaas so lank en hard hoor lag.

My boodskap aan almal is: Raai wat het ek eerste in my handsak gegooi toe ek besef ons moet dalk vlug? My sponstietie!

My huis staan en ek het weer die waarde van gebedsvriende besef. En my top sit mooi want my bra is gestop.

21 comments

  1. O, Woordnoot my pa het sy tandeborsel gegryp toe die skip onderweg Europa toe gesink het! Ons het as kinders met tandeborsels, paspoorte en polisse moes vlug en ons ouers los om ‘n bosbrand te keer. Dit was angswekkend, dis oorleef. Ons lag nou nog oor die tandeborsels! Jou tietie begryp ek, het jare met kanker survivors gewerk. Liefde groete en ek juig dat jy kon uitpak en lag.

    Liked by 2 people

  2. Ek is so dankbaar julle is veilig. Dankbaar dat dit nie nodig was om te vlug nie. Ek het gehoor in Knysna het ‘n vrou ‘n koffer vol serpe ingepak! Ja, ons is nie voorbereid nie, want ons wil mos maar eintlik glo dat alles sal goed gaan.

    Like

  3. Laat jy my ook dink dat ek glad nie paraat is nie. My paspoort is in my handsak, want dit moet altyd by my wees. My ID ook. In SA was papoort in kluis en ek wil my verbeel ek sal van kluis vergeet as ek moet pak om vinnig te vlug. Sjoe, wat ‘n onaangename ervaring. En jy moet my nommer asb ook op jou foon sit.

    Like

  4. Amper het ek hierdie plasing gemis. So bly julle is veilig. Ek het geglimlag oor die sponstietie – ‘n vrou bly maar ‘n vrou nè? Ons het een aand so vinnig gepak teen ‘n bosbrand (wat toe gelukkig uitgewoed het voordat dit by ons huis gekom het) en ek het my gasbottel, my kat en my kindle gegryp.

    Like

  5. Sjoe dis omtrent n nagmerrie gewees. Hier moet ons paraat wees vir ingeval. Noodvoorraad iewers weg van die huis af bv in garage. Toe die aardbewing so erg was die jaar het ek net Trompie vasgehou en reggemaak om weg te kom. Geen ander gedagtes toe mure begin heen en weer beweeg nie. Bly die oordeel was betyds gekeer.

    Like

  6. Bly julle is veilig. Ek moes eendag met my kinders vlug na my ma toe na n dreigement deur my besope eksman dat hy die huis aan die brand gaan steek toe gryp ek my dogter se matriekafskeid rok wat vir haar kosbaar was. My seuns se skoolkere en my bedlampie en wekker om betyds te kan gaan werk die volgende dag asof ek ooit daai nag n oog toegemaak het. Dankie Heer daardie deel van my lewe is verby. Sou graag saam jou wou bid. 💟💞

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s