Tuin van herinnering.

Ons ry vroeg want ons weet daar gaan baie mense wees. Dis die vierde roudiens wat ek bywoon by hierdie kerk nadat ek in 2007 my tentpenne gelig het. Die eerste keer was toe haar beste maat dood is nadat ‘n haastige motorryer haar van haar fiets afgery het. ‘n Paar jaar later was dit ons sjirurg vriend wat nog gepraktiseer het terwyl hy in ‘n rolstoel gesit het. Wat jare gelede deur ‘n onnadenkende motorbestuurder van sy motorfiets afgery is en sy rug gebreek het. Maar hy was ‘n ysterman en het tot op die laaste nog operasies uitgevoer in ‘n spesiale stoel wat hom kon laat staan. En hy sterf as gevolg van longontsteking. So twee jaar gelede is dit die diens van ‘n baie spesiale vrou. Sy het moedig geveg. Tot op die einde.

Die tuine is lieflik. Ek glimlag want ek sien haar hand in die tuine. Dit was haar passie. Tuinmaak. Sy het kort kort iets nuuts in haar tuin gedoen. Ek voel opgewonde want vandag is ‘n celebration van haar lewe. Ons stap die groot foyer binne en word toegesak deur al die ou bekende gesigte. Baie van die wat so bly is om mekaar te sien het ook maar hulle penne uitgetrek na ons daar weg is. Sowat 4 persent van die “ou” groep het agtergebly. Dis so lekker om mekaar met opregte blyheid te sien. Sommiges huil sommer. Maar die algemeenste opmerking is: “jy lyk so goed!” Opregte opmerkings.

Twee jaar gelede was die foyer nog ‘n verwelkomende ingangsportaal. Sy het groot leerbanke met mooi matte neergesit. Dit was mooi en vriendelik. Ek kyk rond maar sien niks van die mooi nie. Inteendeel, die hele kerk is donkergrys geverf. Met swart gordyne. Vir die eerste keer in my lewe voel dit of ‘n gebou op my inval. Ek sien niks meer in daardie gebou wat vir baie jare haar domein was nie. Ek sien nie die vrolike vrou wat met ‘n geblomde romp, olyfgroen bloes en plat leersandale in die kombuis rondfladder om blomme “te doen” vir ‘n funksie nie.

Daar is geen teken van die vrou wat seker ‘n paar honderd mense met berading gehelp het om weer hulle stukkende lewensstukke op te tel en aan te gaan nie. Daar is wel moewiese ruikers met pienk rose in daar grou gebou op die swart verhoog, maar dit bring nie eers vrede in my siel dat dit sy is nie.

Haar familie se afskeid aan haar was persoonlik. Mens kan dit verstaan. Iemand wat soveel jare by ‘n groot kerk betrokke was, se finale afskeid kan maar privaat gehou word. Sy was baie lank blootgestel daaraan om ‘n openbare figuur te wees. Hierdie diens is vir die massas mense om totsiens te sè.

Ek wil nie baie sè oor die res van die diens nie. Ek kon in elk geval nie eintlik asemhaal in daardie donkerte nie.Ek wil ook niks sê oor die speech nie. Ja, speech. Nie ‘n preek nie. Ek kan baie sè maar ek sal nie. Net dat dit nie die celebration van haar lewe was nie. Dit was ‘n groot teleurstelling.

Ons wou nog kuier met die ander klomp weglopers. Maar my gees was swaar. Ek kom in die saal in waar ons altyd die koek en tee ding gedoen het. Alles is swart. Ek kyk na die plek waar ek en sy twee jaar gelede gesit het met ons vriendin se roudiens. Toe die mure nog lig was met turkoois. Daardie dag het sy vir my vertel dat sy en vriendin mekaar belowe het dat die een wat eerste Daar aankom, vir die ander plek sou hou. Sy was toe al gedaan. Ek het die grys lokaal een kyk gegee. Ek kon haar nie eers daar picture nie. Ek moes uit. Kon nie eers iets eet nie.

Dit moes vir haar moeilik gewees het toe sy agterkom dat hulle besig is om haar stempel uit te wis. Dalk is dit die rede dat sy ten spyte van wonderwerke maar eerder gekies het.

Ek het ‘n hoofstuk afgesluit. Maar nie op ‘n hoè noot nie. Eerder met ‘n effense slegte smaak in my mond. Dis net ‘n gebou. Ek weet. Maar ek weet ook dat ek nooit weer soontoe sal gaan nie. Al was ons wat “weglopers” is uitgenooi om terug te kom.

Die atmosfeer het onherroeplik verander. En ek loop met ‘n eina daaroor. Maar daai eina sal ook genees. Elke keer as ek ‘n mooi tuin sien, sal ek haar daar soek. Tussen plante. Dis waar sy is….nie in daai depresiewe gebou nie. In my simpel koppie kan ek ook nie die glans van die Here daar sien nie.

Maar dis ek.

14 comments

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s