Mr Scruffy

In dieselfde kompleks waar ons gebly het toe ons bure die vrees in ons ingeboesem het, het die buurman wes van ons (die towtrucker! Sonde met…ja, die bure)  uiteindelik getrek. Daar trek ‘n jonger vrou met twee kinders in. Genadiglik het ons darem nou nie meer die verwoede wegjaag van skreeunde bande drieuur soggens nie. Ek en sy loop mekaar raak en doen maar die gewone nuwe bure ding. Stel onsself voor en gee so bolangs agtergrond. Haar hond is by haar. ‘n Groterige poedel. Ek buk af om hom te vryf maar hy tree terug en gee my ‘n kyk.

“Scruffy!” Sy raas met hom. “Waar is jou maniere?” Hy laat sak sy skop en loop stadig nader aan my. So asof hy skuus sê dat hy lelik was. Sy vertel my hoe hy die lig in hulle lewe is. Haar seuntjie verafgod hierdie hond. Sy het ‘n ringnek papegaai ook en gaan haal fotos van hoe Scruffy en die papegaai met ‘n klein plastiekballetjie in die gang “krieket” speel.  Hy is absoluut adorable. Ek is nie ‘n vreeselike hondeliefhebber nie, maar hy steel my hart.

Soggens as ek my gordyne ooptrek, hardloop hy verby my sitkamer venster. En elke oggend as ek hom sien, kom die liedjie “Leader of the pack” onwillekeurig op. Want hy is altyd voor en die res van die kompleks se brakke hardloop in ‘n tou agter hom aan. Hulle hardloop so ‘n draai deur die kompleks en dan gaan hy huis toe. Die Paasnaweek breek aan. Sy het my intussen vertel van haar nuwe liefde. ‘n Getroude man van ‘n ander dorp. Wat op snaakse tye kom kuier het. En sy verstaan nie maar Scuffy hou niks van die man nie. Hy het hom al gebyt. Ek staan die Paassondag en kook en toe ek omdraai, staan Scruffy in my deur. Dit was ‘n eerste. Ek nooi hom in en hy hardloop dadelik in tot by die Oom se voete en daar gaan lê hy. Later gee ek hom kos toe ek agterkom hy is vrek honger. Maandag bad ek hom want hy is vieslik vuil. Maandag aand gaan hy huis toe en ons sien hom net weer as hy soggens die honde vir hulle walkie vat.

Een Vrydagmiddag toe ek tuis kom, sien ek die woonstel is leeg. Sy het genoem dat sy na die ander dorp gaan trek. Ek is so rukkie doenig in my huis maar bly wonder oor Scruffy. Ek loop later uit en loop om die woonstel. Daar lê hy, in ‘n hopie met net sy bedjie. Hy trek summier by ons in. En hy was die grootste honde plesier wat ek na my Whippet, Monica, beleef het. En ek wonder oor ‘n seuntjie in ‘n vreemde dorp sonder sy hond. Later vertel Anna wat vir my werk my dat sy gehoor het die vrou sê vir iemand toe hulle besig was om te pak, dat sy die hond gaan los want iemand sal hom vat.

img_20190926_085413408589038.jpg

Hy was ‘n kalant op sy eie. Baie independant en vreeslik liefdevol. Hy het sy aandag en liefde gevat. Ek en hy het meer as een keer saam gedans. Sodra hy musiek hoor en sien ek begin trippel, het hy op sy agterpote gaan staan en al in die rondte saam my getrippel. Wens ek het toe al ‘n video daarvan geneem. Hy kon op my bed slaap maar hy het nie daarvan gehou nie. Hy was die ongekroonde koning. As ek seepborrels geblaas het vir DJ wat toe net 5 maande was, het hy histeries agter dit aangeblaf, tot groot vermaak van die  baba.

Toe word hy siek. Hy word ingeboek by Onderstepoort en hulle deel ons mee dat hy lewerversaking begin kry. Sit hom maar uit mevrou, hy gaan nie lank leef nie. Die Oom steek vas, en ons vat hom na ‘n veearts toe by Zambezi dierehospitaal. Die dokter identifiseer hom as a Cockapoodle. Die prognose is nie goed nie maar daar is pille wat hy kan drink. So gebeur dit dat Scruffy Fourie op Arrie Nel Apteek se databasis gelaai word waar hy op chroniese medikasie is. Elke maand gaan haal ek Scruffy se Ursotan. Hy is so oulik dat as ek die pil uit die botteltjie skud, kom staan hy oopbek voor my en sluk. Hy het geweet dit is vir sy beswil.

Twee jaar later kom ons agter hy is lusteloos. Maar hy lê nie. Hy speel nog met sy tennisbal wat sy grootste gunsteling speletjie was. Die Saterdag lê hy meer en kyk my kort kort met daai donker oë asof hy iets wil sê. Sondagaand is hy rusteloos. Dan binne die huis, dan buite tussen die struike. Dan weer in. Loop in sirkels. Gaan lê later uitgeput in sy mandjie en raak aan die slaap. Ek gooi hom toe voor ek gaan slaap. Hy maak sy oë oop en lig sy oor. Sy stertjie waai effens. Ek belowe dat ek hom more dokter toe sal vat en toe waai sy stertjie bietjie vinniger.

Vyfuur Maandag oggend storm die Oom histeries by die kamer in. Scruffy het deur die nag doodgegaan. Ons is albei in skok. Ons weet dat die afgelope twee jaar net geleende tyd was. Ons dierbare sagte wonderlike hond het ons agtergelaat. En terwyl ek hier sit en skryf stroom die trane oor my wange want dit was die tweede hond wat ek regtig liefgehad het.

Dis nou tien jaar later. Ek lees Positief se hartseer oor Tummy. Ek krap in my fotoboks om ‘n foto te soek en kom op die fotos van Scruffy af. En ek voel Positief se eina so erg dat my bors pyn. Ek huil sommer vir ons altwee.

img_20190926_085511_1cs1331843602.jpg

Scruffy se pienk slaapmaatjie. Wat ek in ‘n gaatjie gaan begrawe het nadat ek die koue lyfie by die veearts gaan aflaai het want ek het nie groot genoeg tuin om ‘n graffie te maak nie. Op daardie plekkie waar sy speelding begrawe is, het ‘n krismisroos opgekom. Uit die bloute. Wat elke jaar diep pienk blomme dra. Scruffy se roos.

Ou Scrufs..groot gees, klein lyfie.

17 comments

  1. Hoe kan ‘n mens so lief raak vir ‘n hond? Ek het oor my Camilla getreur net so erg soos oor ‘n mens wat dood is. Myself belowe om nooit weer so lief te raak vir ‘n dier nie. Jou Scruffy kan bly wees die vrou het hom gelos waar julle hom kon kry!!!

    Like

  2. Ek huil nou al weer snot en trane by die kantoor, oor jou Scruffy en my Tummy.
    Gits man ek is wraggies liewer vir my diere as vir meeste mense. ‘n Dier is net anders, sy stert waai altyd wanneer hy jou sien, nooit ooit sal hy iets doen wat jou bewustelik seermaak nie. En die wonderlikste is dat hulle elkeen hulle eie persoonlikheid het

    Like

Lewer kommentaar op Dr Christa van Staden Kanselleer die reaksie

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s