Christa se blog vanoggend oor bure lê my op die stadium na aan die hart, want ai toggie…hoekom moet ons altyd sonde met ons naastes hê?
Ek het alreeds vir julle vertel van Koos, my mekênniek buurman wat agter ons bly.Liewe Koos
Christa se ondervinding met die nuwe intrekkers het my laat onthou van my en die Oom se eerste plek waar ons ingetrek het na ons troue. Ons huur ‘n eenheid in ‘n kompleks. Vroeër jare, toe Marula Sun gebou en nog deur Engelse bestuur was, was dit die werknemers van Marula Sun se wonings. Swembad, kuiersaal, baie eenhede. Netjiese tuine. Ons het ‘n heerlike drieslaapkamer met twee badkamer eenheid gehad. By die hek. Ons was dus nie so deel van die kompleks nie. Aan die noordekant het ‘n man gebly wat vir die Weermag gewerk het. Aan die westekant was die tow-truck eienaar. Aan die suidekant, anderkant die ingangspad was daar ‘n man en vrou met vier tieners. Gelukkig was die straat aan die oostekant. Een probleem minder. En ter wille van die storie moet ek noem dat ons almal dieselfde nasionaliteit gehad het.
Die Weermag man het gereeld sy vrou afgestof. Tot een aand wat die Oom sy slippers aangetrek het, om die eenheid gestap het en hom gaan reghelp het met ‘n taai klap en ‘n dreigement om sy offisiere in te lig. Vir die res van die tyd wat ons daar gebly het was daar geen drama nie. Tensy die vroulief net nie meer om hulp geskree het nie.
Die tow-truck eienaar was so windgat jong man. Hy het tydig en ontydig met daardie bakkie wat ekstra hard gebrul het, met skreeuende band by die hek uitgejaag, oppad na ‘n toneel. Die kompleks is baie naby aan die Rosslyn pad. Hulle was nog besig om die N4 vanaf Rustenburg te bou. Later het ons nie eers meer die brul gehoor nie. Genadiglik het hy nie sy huur betaal nie en is toe versoek om te trek. ‘n Jongerige vrou met die oulikste brak het langs ons ingetrek. Ek sal eendag bietjie vertel van Scruffy. Vrede van daardie kant af ook.
Die gesin “oorkant die pad” was van dag een af ‘n tameletjie. Woeste mense. Woeste kuiers. Woeste gevegte. Pa en Ma teen die kinders met vuiste. En kinders wat terug foeter. ‘n Nare spul. Oujaar breek aan. En die hel bars in daardie klein huisie oorkant die pad los. Ons is die teiken, want ons is die goody two shoes wat gereeld kerk toe gaan. Die keer toe hulle ons oorgenooi het, het die Oom baie ferm geweier want hy drink glad nie en hy was nie van plan om met hulle te kuier nie.
Ons beleef die grootste riller van ‘n nag. Hulle gooi ons vensters stukkend, gooi goed op ons dak. Ruk en pluk aan die glasdeur. Skel en lag ons uit. Ek erken ruiterlik dat ek daardie nag doodbang was. Ons het geweet dat om uit te gaan, sou die verkeerdste ding wees. So bly ons dus in die gang sit. Dis al waarons veilig is. Ons maak bed in die gang en slaap die nuwe jaar daar in. Ons bid ernstig en vra die Here om hier te help. Ons plan was om huis te koop maar op daardie stadium was dit nog nie heeltemal die regte tyd daarvoor nie. Ons sluip die 1e Januarie uit ons huis uit. Vlug na iewers anders. Dis doodstil in die huis van amok.
Ek staan die 3e Januarie op en gaan maak koffie. Terwyl die ketel kook trek ek die gordyne oop. En val amper flou. Die amokmakers het oornag getrek. DIe huis is leeg. Deure staan oop. Die plek lyk soos ‘n varkhok, maar hulle is weg. Julle kan self dink watse verligting dit was. ‘n Paar weke later trek ‘n nuwe familie daar in. Nie dieselfde nasionaliteit as ons nie. Ek moet as ek wil ry, ‘n u-draai maak om die knoppie te kan druk wat die elektriese hek oopmaak. Een oggend is die vrou buite en wys vir my sy sal die hek oopmaak. Ek kan dus in trurat tot in die straat ry. Dit word ‘n daaglikse instelling. Elke oggend as ek in my motor klim, is sy in haar japon by die paaltjie, druk sy vir my die knoppie. Nie baie lank daarna nie, kry ons die geleentheid om nader aan die Oom se werk te trek. Ek dink vandag nog met ‘n glimlag aan daardie oggend ritueel.
Tans is Koos nie ons enigste buurvlieg in die salf nie. Buurman Jaap het saam met sy skoonseuns ‘n fabriek begin onder sy afdak. Hulle maak pallisades. Die geskreeu van die “grinder” sny deur murg en been. Van 7uur soggens tot 8uur saans. Saterdag, Sondag. Ek wil nie meer huis toe gaan nie.
Gisteraand het die Oom gedreig om weer sy slippers aan te trek. Ek het gekeer. Hulle het eers so 9 uur afgesit. Maar ek dink as hy vanaand sy slippers wil aantrek, sal ek dit vir hom gaan haal.
Mens kan net soveel sonde met die bure hanteer!
Dis omtrent sonde met die bure!!! Trek jou slippers ook aan 😊
LikeLiked by 1 person
SJoe…dan gaan ons in die Beeld opduik!! Of op Maroelamedia…
LikeLiked by 1 person
Ek gaan die oom kom haal om ‘n paar dae by my te kuier. Pak sy slippers in.
LikeLiked by 1 person
Oukei!! Hy is oppad, met sy slippers!
LikeLiked by 1 person
Ek het geweet jy sal nie omgee nie 😂🤣 dankie, jy’s ‘n vriendin duisend.
LikeLike
Hehe…moet net nie laat die SON of die Huisgenoot hiervan hoor nie
LikeLiked by 1 person
🤣
LikeLike
Kan ek ook kom asb? Ek kan hard slat met ‘n Stokie 😆
LikeLiked by 2 people
O ja, enige tyd. Ons het baie bure wat baie naby aan ons woon. En hulle dink almal ons is stokdoof.
LikeLike
Ag Woordnoot dit is vreeslik! Nare ervarings. Myne maar klein daarteen
LikeLiked by 1 person
Trek sommer bokshandskoene ook aan! Ons woon in so ‘n stil buurt…daar gaan weke verby sonder dat ek enige van my bure sien.Lyk my ons is baie gelukkig!
LikeLiked by 1 person
Gemors sê ek jou, dis n regte gemors en jy is die een wat daaronder lei!
LikeLiked by 2 people
Goeiste, maar julle het al vreemde en rowwe bure gehad, WoordNoot! Dankie tog dat die Oom bereid is om sy slippers aan te trek!
LikeLiked by 2 people
Ai ai ! Ek het ook al kwaai sonde met die bure gehad! My bure is weer TE GOED. Glo my, dis net so sleg ( of dalk slegter) as te sleg. Ek het jare gelede daaroor geblog, maar dit toe Private gemerk want ons dorpie is baie klein …en ek weet nie hom om te mask dat net n paa4 mense dit kan sien nie. Trek maar aan darie slippers. Soms help dit!
LikeLiked by 1 person