Moenie die water mors nie

watermeters

Ons is 4 huise wat op een erf gebou is, alhoewel elke huis voltitel is en niks met mekaar deel nie. Ons water meter en die van ons buurman, Koos, wat agter ons bly, staan so bymekaar. Sy meter is gekoppel aan ‘n dunnerige koperpypie wat langs ons muur af loop tot by sy huis. Nou Koos is nie ‘n buurman nie. Hy is net ‘n vreeslike irritasie.

So laat 2017 vervang die stadsraad ons watermeters met die wat lyk soos op die foto. Een skemeraand, sien ek ‘n gebukkende figuur buite ons hek by die meters sit. Nou daar is ek soos my ma. Ek storm dadelik uit om die boosdoener wat watookal daar doen, aan te gaan vat. Dis toe Koos. Hy verdink die meter dat hy lek, want hy sien op sy rekening sy waterverbruik is baie. Maar omdat Koos nou ookal ‘n paar keer sy krag onwettig aangesit het nadat dit wettig afgesny is, vertrou ek nie heeltemal die vrede nie. So verloop daar ‘n paar weke. Ek sien hom weer een aand. Nee, wragtag….hierdie stadsraad is hopeloos. Hy het nou al die ding gerapporteer maar dit lek nog steeds. Ek belowe hom ek sal die volgende dag my buurvrouplig doen en dit ook aanmeld. Ek doen dit en stuur ‘n whatsapp na sy vrou met die nommer wat ek gebel het, die tyd, die naam van die een wat die klagte afgeneem het, die verwysingsnommer en die datum. Ek is mooi geleer.

Nou ons metertjies staan nie so kaal by die hek nie. Daar groei kannas en varings. Toe ons terugkom na ons heerlike vakansie in die Noordkaap, kyk ek met nuwe oë na die wêreld om my. Daai kannas! Ek is 1.76 meter. Ek staan langs die hoogste een, maak ‘n merk, sny dit af en meet die stuk wat bokant my kop uitgetroon het. 64.3sentimeter! Hierdie kannas kry water, baie water. Dis hoekom hulle so mooi is. Die algemene aspoestertjie van die veld is dig bebos met die lieflikste trosse geel/oranje blomme. ‘n Ware skouspel. Ek het nog nooit so iets gesien nie. Eendag bel die Oom, histeries! Die water borrel by die metertjies uit! Dit klink soos ‘n rivier. Hy ruk bosse kannas uit en staan oop die ou einde enkeldiep in die water. Die water stroom in ons oprit af.

Koos is nou elke aand by die meter. Hy plak en las en spoeg daai meter met al wat ‘n aqua putty of gom of smeersel is. En hy skel. Die hele Water Afdeling van Pretoria Stadsraad weet al wie is Koos want hy is op die oorlogspad! Hy het nou al soveel keer die ding gerapporteer. As hy bel, weet hulle al almal wie is dit wat praat. Hy het ook al soveel eposse gestuur, hy kan nie eers onthou hoeveel nie! Ek is in Heilbron toe Koos bel. Ja, sê hy. Die Stadsraad het vanaand sy meter kom regmaak en dis toe nooit sy meter nie, maar ons s’n! “En julle gaan my al my geld terugbetaal wat ek vir meer as ‘n jaar te veel betaal het!”

Ek kan nie so vinnig op my voete dink nie. Duisende rande! Waar de hel gaan dit vandaan kom? Maar gelukkig is die Oom ‘n Rooie. Hy dink vinniger as weerlig en hy vertel Koos dat dit maar ‘n sakie is wat die Stadsraad moet uitsorteer. Maar toe die Oom nou mooi gaan kyk en ondersoek instel, kom hy agter maar dit is nie ons meter wat gelek het nie. Dit is Koos se meter! Maar elke keer as Koos ons sien, baklei hy met ons oor ons meter en ons skuld hom en so gaan hy aan.

Vandag bel die Oom my weer. Sal ek asseblief daardie whatsapp wat ek vir Buurvrou gestuur het, net weer soek en weer stuur? Ek begin soek. By Februarie 2017. En ek rol en rol en rol en rol……tot by 15 Maart 2018.  Dis die dag toe ek sy meter gerapporteer het. Sedertdien het hy nog nie een oproep gemaak of een epos gestuur nie. Nie….een….nie!!!!!

Die meter is op 10 Mei 2019 reggemaak. En hulle skryf hom aan. Want hy het dit nooit gerapporteer nie….Hy het net my een simpel oproepie se nommer. En my bleddie kannas is geruineer. Ek is nogal kwaad vir Koos. Nogal baie kwaad.

Advertisements

11 comments

  1. Haai sjoe! Dit was nou rerig nie mooi van hom om jou mooi Kannas uit te ruk nie en toe is dit nooit eers julle watermeter nie. Ma sou ook baie kwaad gewees het vir Koos. Hier by ons is ook sulke mense maar hul het al met ma te doen gekry en loop nou maar draaie om haar. Hulle weet ek is ook net so kwaai. Jy moet Koos se adres vir my gee dat ek en Ma bietjie met sy gal gaan werk oor jou mooi Kannas! Ek en Ma kan net dink hoe voel jy nou. Ek hoop jou Kannas groei weer baie gou hoor. Hier is maar baie drukkies en nat soene dat jy kan beter voel. 😀 😘💕😘

    Like

  2. Nou watter soort buurman is dit nou wat sy watermeter laat regmaak en sodoende jou kannas laat dors ly? Bwahahaha, ek het hierdie storie nou vreeslik geniet. En daardie Moeder van understatement: “Ek is nogal kwaad vir Koos. Nogal baie kwaad.” 😁🤣😂

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s