Notas uit ‘n logboek: Vyf

panda (3)

Onse Hester se blog oor haar swart Pandosie wat op die rug van ‘n insleep voertuig wegry, het my dadelik laat terugdink aan ‘n ondervinding wat ek gehad het toe ek nog ernstig deelgeneem het aan die pendelary van die Oom se pendeldiens. (Terloops, ek het dit gehaat)

In die begin was dit net ek en hy. Vandag is hy die enigste een wat al die rywerk doen. Ek werk mos nou en sal in die heel uiterste situasies dalk help. Maar dan moet dit soos in heeltemal uiterste wees. Nietemin, toe hy daarmee begin het, was ek huisvrou en moes ek maar net klim en ry.

So staan ek een middag, so half vyf, en stryk. Die Oom is weg ORTambo toe met die groot kar. Ek kyk my stories wat ek nie kan kyk as hy tuis is nie, so deur die strykery deur. My selfoon lui. Dis die Oom. Hy het baie vroeg die oggend twee swart mans Wonderboom lughawe toe geneem. Hulle is nou terug van die Kaap af en moet net gou teruggeneem word na hulle gastehuis. Dis ongeveer so 4 kilometer. Dit sal tjop-tjop wees. Ek kan al 5 uur weer terug wees by die huis. Ek is maar lekker dikbek want my storie is nou baie interessant maar hy gaan seker eers so 8 uur tuis wees. Daar sal genoeg tyd wees om dit klaar te kyk. Ek sit die strykyster af, vat die Panda se sleutels en ry gou Wonderboom toe. Dis ongeveer tien minute van my huis af.

Hulle wag al vir my. Een klim voor in en die ander een wat agter inklim, gesels onophoudelik op sy selfoon. Ek sien die wildskatalogus en vra of hulle by die groot veiling was wat in Port Elizabeth gehou was. Ja, antwoord hy en Meneer Mokgotsi het ‘n bok gekoop van 1,9 miljoen rand. Ek gooi die Panda ampertjies om. Dis so naby en daar is nie tyd oor vir baie gesels nie. Hulle betaal my R300. Dis ‘n bargain! Ek hoor hulle praat en kan iets uitmaak van Waterkloof lughawe. Meneer langs my vra my of ek dink ek kan hulle Waterkloof toe neem want hulle moet ‘n dinee bywoon. Kyk, julle weet seker wat deur my kop geflits het, maar ek hou my poker gesiggie op. Ek dink daaroor en probeer die oudste triek in die boek. Looi hulle met ‘n enorme bedrag en hoop hulle sê ek is te duur. Dis reg, antwoord ek maar hulle gaan my R600 per persoon moet betaal. En ons gaan nie 6uur daar wees nie. Nie met Pretoria se verkeer op die N1 suid nie.

Die volgende oomblik sit ek en wag dat hulle gou hulle aandpakke gaan aantrek. R1200 in my beursie. Ek bel die Oom, verduidelik wat gebeur het. Ek hoor hy is bekommerd, maar ek is een dood skuldig. Ek gaan nou Waterkloof lugmagbasis toe. Ek sleep daai Pandatjie op die N1. Die man wat langs my sit is ‘n ongelooflike geletterde wyse man. Ons gesels oor Zuma en die korrupsie. Mnr Mokgotsi is nog steeds op sy sel. Die Panda laat waai. Bygesê, ek weet ook hoe om hom te ry want ek ken mos die paaie. Ons zirtz verby ander karre. Ek dink eintlik die engeltjies het hom van agter gestoot. Skielik praat die grootbaas van agter af.

“Ma’am,” sê hy met ‘n laggie. “This car is amazing! I cannot believe how sturdy it is on the road and I see the kilos on the clock but it runs like a new car! And the interior! It is like brand new!” Ek kyk toe ook na die metertjie en sien met ‘n skok dat die karretjie al 280 000 kilos geloop het. Het ons sowaar al 30 000 kilos gery vandat ons hom gekoop het met 250 000 kilos op die klok?

Ek laai hulle half sewe by ‘n hotel in Erasmia af, nadat hulle besef het hulle moet eintlik nie by Waterkloof wees nie. Ons ry by die hekke in. Dis net BMW’s en Mercs. Selfs ‘n limosine. Ek stop met my wit Panda tussen twee swart BMW’s, die televisie kameras vol op my wit gesiggie wat nie eintlik grimering ophet nie…ek was mos besig om te stryk, onthou? Mnr Mokgotsi klim uit en loop na my kant toe. Hy skud my hand en in sy taal verduidelik hy vir een van sy vriende wat nader staan hoe dit gebeur het dat hulle in ‘n wit Fiat Panda by ‘n regeringsdinee opdaag. Nog ‘n paar mense het my hand geskud en die Panda op die dak geklop en een wou selfs met sy eie oë sien wat die kilometer lesing is.

Ek het eers 9 uur by die huis gekom. R2000 vir die aand se ryery verdien. Die Oom het vyfuur die volgende oggend dieselfde twee mense by hulle gastehuis gaan haal en ORTambo toe geneem. En in die ry  vir Mnr Mokgotsi in kontak gebring met ‘n jarelange vriend wat buffels teel. Skynbaar koop hy nou gereeld sy buffels by vriend Peet aan. Die twee is op voornaam terme.

All in a days work…..met ‘n Panda wat tans 371 000 kilos op sy meter het en nog steeds getrou sy wieletjies lig en ry met die minste moeite en die minste onderhoud.

Ek verstaan Hester se liefde vir haar Pandosie…..

Advertisements

29 comments

  1. 371, 000 kilos! Nou het jy my asem weggeslaan. Dan kan ek en Pandosie mos nog ‘n lang pad loop. Ons trek nou eers by 101, 000 (dit was my werkskarretjie). Dit gee my hoop. Ek hou van daai klein lyfie met die groot woema wat ook so zirts onder die groot 4×4’s uit 🤩 Mnr. Mokgotsi en vriend ken duidelik kwaliteit wanneer hulle dit sien. Ek hoop die oom het darem ‘n bietjie van die winste afgestaan vir jou persoonlike gebruik – net omdat jy jou storie gemis het.

    Like

    • Dis regtig so. Die duurste item wat ons moes vervang was die koppelaar…ek het eendag n Italiaanse doktor gaan haal met die Panda. Hy het feite uitgeryg oor die kar wat my stom laat sit en luister het. Ek weet net in SA is die Fiats baie “underrated” . Dis uitstekende motors. So Pandosie sal nog baie lank hou want hy loop nie so baie nie.

      Liked by 1 person

      • Ek kry nogal baie aanbiedings van persone wat hom wil koop elke keer as ons opdaag vir dienste. Pandosie is ‘n 1400 sport en hy laat waai op die pad. Ietwat swaar op petrol gemeet teenoor my seuns se Brio en Focus, maar ek ry nie baie rond nie. En hy lyk ook nog baie mooi (wanneer hy skoon is).

        Like

      • Hou maar vas aan hom…jy sal nie weer so nifty karretjie kry nie…die Oom was sy lewe lank in die motorbedryf….hy sal klou aan ons sn….

        Liked by 1 person

    • Ja nee…volgens die ou Italianer wat ek opgelaai het is die karretjie nog ver van klaar gery af….hy sê ons gaan lag lag 500 000 kilos ry….ons is nie ver daarvan af nie!

      Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s