SILVER

download (1)

 

Silver se verhaal -soos oorvertel deur Rocky

Gideon Gouws het aan die verkeerde kant van die treinspoor groot geword. Sy pa het verdwyn toe hy elf was. Hy moes pa speel vir sy vier boeties. Dinge het maar beroerd gegaan. Toe hy hoërskool toe is, was hy die enigste seun wat nie skoene gehad het nie. Die houtwerk onderwyser, Meneer Malan, het hom ontferm oor die jong seun. Hy het vir Gideon sy eerste paar skoene gegee. Dit was wel ‘n paar wat al redelik baie gedra was, maar die skoene was blink. Meneer het vir Gideon gewys hoe “bone” jy jou skoene. Kyk maar, jy sal sien die skoene is altyd blink.

Iets het die jonge Gideon gedryf. Hy het stadig maar seker begin uitblink op skool. En moenie vergeet van die sport nie! Hy het aan alles deelgeneem en in alles gewoonlik gewen. Die arm seun met die goue lepel in die mond. Dinge by die huis was nog steeds sleg, maar Gideon kon al sy broers sover kry om ook hard te werk. Behalwe vir Loekie. Loekie was die tweede jongste seun en hy was maar altyd moeilik.

Na skool kon Gideon medies  gaan studeer met ‘n beurs wat hy losgeslaan het. Hy het hard gewerk. Dit was ‘n groot dag toe hy sy Ma en broers in’n ordentlike huis kon laat intrek. Die broers het saamgewerk. Behalwe Loekie. En om alles te kroon, het hulle Ma Loekie verder in die verderf ingehelp omdat sy niks verkeerd kon sien met sy luiheid en agressie nie.

Gideon het gaan spesialiseer. Getrou en die twee mooiste dogtertjies gehad. Eintlik het alles baie goed gegaan. Hy was ligjare verwyder van die armsalige huisie waar hy groot geword het. Die  boeties het almal vooruitgegaan, getrou en kinders gekry en die familie byeenkomste was gewoonlik groot pret. Jy kan vir jouself dink, al daardie kinders! Behalwe Loekie. Loekie wou nie trou nie, hy het nie gewerk nie, en in hulle Ma se oë was dit maar reg. Veral toe Loekie haar eendag inlig dat die dokter sê hy is ‘n sieklike man. Gideon  kon nooit uitvind wat skort met Loekie nie. Loekie het al hoe meer verwaarloos en vuil geword. Al hoe meer aggresiewer. Hulle Ma se goed het begin verdwyn. Gideon het met sy hand in sy hare gesit want elke bediende wat hy aangestel het, is na ‘n tyd weggejaag omdat sy so steel. Gideon het vermoed dat Loekie met dwelms deurmekaar is.

Dinge het sleg begin raak tussen die broers en Loekie. Die familie het uitmekaar gespat. Loekie was ‘n paar keer in die tronk, maar dan het hulle Ma een van die broers omgepraat om sy borg te betaal. Vir Gideon het dit gevoel hulle is emosioneel terug waar hulle was toe sy pa weggeloop het. Dieselfde negatiewe invloede.

Een aand was Gideon by ‘n kongres. Daar was ‘n oproep vir hom. Dringend. Hy het stom van skok geraak toe die polisie aan die anderkant van die foon hom inlig dat sy ma baie ernstig aangerand is. Hy het na haar huis toe gejaag. Loekie was nie daar nie. Die polisie het na hom gesoek, maar hy was skoonveld. Toe sy Ma haar bewussyn herwin, kon sy nie praat nie. Breinskade. Hy het vir haar ‘n plek in ‘n versorgingsoord gekry. Hulle Ma was nou soos ‘n baba. Die haat en bitterheid teenoor Loekie het hom begin omvou. Hy het begin drink. Sy vrou het gesoebat. Sy dogters het gehuil. Maar hy wat Gideon was, sou Loekie met sy kaal hande doodmaak. Hy het partykeer geskrik as hy besef dat hy die wreedste gedagtes teenoor sy broer gekoester het. Dinge het versleg tussen hom en sy vrou en sy het die dogtertjies gevat en Kaap toe getrek. Sy het weer iemand ontmoet en dit was vir hom nog ‘n groter skok toe sy aankondig dat hulle Duitsland toe gaan emigreer. Sy drankprobleem het so hande uitegruk dat hy stadig maar seker sy praktyk verloor het. Daar was ‘n dag toe hy dronk in die teater ingestap het en neergeslaan het. Die sekuriteit het hom uitgedra. Na lang sake is hy tydelik van die rol geskrap.

Een aand het hy huis toe gestrompel. Hy kon nie self bestuur nie en het maar geloop waar hy wou wees. Genadiglik het hy nog sy huis gehad, maar dit was hel om soontoe te gaan, want sy prinsesse was nie meer daar nie. Hy het op die sypaadjie voor sy huis gaan sit en die bottel brandewyn uitgedrink. In sy besope toestand het hy opgestaan om oor die pad te stap en het hy voor ‘n motor beland. Gelukkig vir hom het die bestuurder stadig gery. Toe hy sy oë oopmaak, het ‘n ouerige dame bo sy gesig gestaan en hom met soveel liefde aangekyk dat hy begin huil het.  Sy het hom probeer ophelp, maar sy kon nie. Toe het sy langs hom gaan sit, plat op haar boude. Daar in die teerpad. Die straatlig het haar gesig verlig en het sag geskyn op haar silwergrys hare. Sy het met hom begin praat. Hy weet nie hoe lank hulle daar gesit het nie. Hy kon darem orent kom en vasstel dat hy niks gebreek het nie.

Wat soos ure later gevoel het, het hy sy hart leeg gemaak teenoor hierdie vreemdeling. Sy het ‘n kalmte uitgestraal wat hy nog nooit by iemand ervaar het nie. Toe hy uiteindelik kon opstaan het sy saam met hom in sy huis ingegaan. Vir hom warm sterk koffie gemaak. Later het hy gedink dat sy die hele nag daar was. Haar teenwoordigheid was surrealsities. Sy was die vrede vanself. Hy het agtergekom dat hy sy hele lewe aan haar blootgelê het. Haar kalm reaksies op alles was bonatuurlik. Op ‘n stadium het hy aan die slaap geraak en toe hy die volgende oggend wakker word, was sy weg. Op die stoel waar sy gesit het, het ‘n spierwit veer gelê.

Gideon het opgestaan, gaan stort en al die drank wat in die huis was, by die drein afgegooi. Dit het nog ‘n rukkie geduur voor hy weer terug op sy voete was, maar nou was hy vol vrede. Sy haat vir Loekie het verdwyn. Sy haat teenoor sy vrou het verdwyn. Die verlange na sy dogters was nog daar, maar hy kon met hulle vrede maak. Hulle ken hom nou as ‘n pa en nie as ‘n dronk man wat goed breek nie.

Die rede dat Silver so opgetrek is met Tannie Frannie, sê Rocky, is omdat sy presies lyk soos daardie vrou wat daardie dag sy lewe verander het. Hy is oortuig sy was ‘n engel…want waar kom die veer vandaan. Toe hy vir Frannie sien, het hy weer sy beskermengel gesien…

Advertisements

35 comments

  1. Woordnoot, dit is so pragtig geskryf. Ek het so gewonder hoe jy hom gaan beskryf en jy het dit fantasties gedoen. En om vir Tannie Frannie so in te bring is net eenvoudig great. Dankie vir die en hou asseblief aan met die, sien uit om volgende deel te lees,x

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s