60 op Plooysburg

My blogvriende weet nou al almal dat ek oor twee maande daai grote tref. Daai 60! Ek het gewonder hoe ek die okkasie wil hanteer. En toe werk dit nou so uit. Ek gaan oor ‘n tydperk van 30 dae feesvier!

Ek en al my vriendinne gaan op die 17e November, een hele maand te vroeg, ‘n groot eet en drink kuier hou. Dis gelukkig ‘n Saterdag, so ons kan dit uitrek tot wanneer die kallers huis toe kom. Ongelukkig kan almal nou nie daar wees nie, maar die wat baie na aan my hart is, ruk op soos een man, of is dit nou vrou?  Gelukkig het ek ‘n sus. Een wat altyd reg is om te onthaal. Ek het nog net aan die idee gekou, toe reël sy al alles. Waar ek net wou saam eet, gaan sy nou propers onthaal. Tafels dek en ek weet nie wat als nie. As my mede bloggers nog nie gaai vol is oor hierdie gesanik oor my verjaarsdag nie, sal ek hopelik na die tyd fotos kan deel. Later die aand sluit daar van die dames se eggenote en die Oom by ons aan en kuier ons nog verder, die keer met ‘n regte boerebraai. Daai een van bring jou eie vleis en drank.

Die volgende viering is die eerste naweek in Desember saam met my kinders. Sewe uit die agt met al hulle gades en die nege klein kinnertjies.

En toe kom die hoogtepunt! Een van my mede aanbieders by Elan Global Radio’ is ‘n afgetrede dominee wat jare gelede die gemeente van Plooysburg se herder was. Daar het hy ‘n ou nagmaalshuisie gekoop wat al oor ‘n honderd jaar oud is. Hy het so bietjie verbreek en verbou aan die plekkie en verhuur dit nou uit as mens wil  wegbreek as jy voel dat jou siel NOU vrede nodig het. Omdat dit my grote is, en mens weet nie of jy die volgende groot een sal sien nie, bied hy aan dat ek vir so lank as wat ek wil, verniet daar kan gaan rus.

Plooysburg is halfpad tussen Kimberley en Douglas. Sanparke se nuutste park, Mokala, waar daar eintlik gefokus word op die bewaring van bedreigde wildspesies is 20 km van daar af. Die Rietrivier loop daar langs en daar is rots tekeninge te siene. Natuurlik is daar baie wildsplase en kan mens op wildsritte gaan as jy sou wil. Douglas is baie naby en dis mos waar die Oranje en Vaalrivier bymekaar kom. En dan…daar is ‘n wynplaas!!! Landzicht! Hulle produseer ook gin, my gunsteling drankie! Die koedoes kom drink snags uit die tuin water by die gat, en Nehemia (Weet nog nie lekker wie hy is nie) se blinde donkie kom krap snags in die asblikke. En natuurlik, as jy nog nie die sterreprag saans van die Noord Kaap beleef het nie, het jy nog niks gesien nie.

Kan julle sien hoe opgewonde ek is?  Ek dink hierdie 60e gaan gatskop wees…ek sal net moet seker maak dat ek op daardie dag iewers my blogvriende ook moet innooi. Wees maar reg!

19 comments

  1. Ag dit klink na ‘n groot saligheid. Ek is bly jy gaan die uitrafelding en die rusding ook doen – dit kan net ‘n plesierigheid afgee. Nehemia se donkie – ag hoe slaat die heimwee my nou, ek wil ook daai donkie …

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s