To do, or not to do…

toa-heftiba-557566-unsplash

DIs daai tyd van die jaar. Ons het elkeen daardie een spesifieke dag in jou lewe, wat jy nie kan weg wens nie. Of jy mooi of lelik is, ryk of arm… jy het dit. Jou verjaarsdag. Ek het ‘n ding met verjaarsdae.

My verjaarsdag is net dit. ‘n Dag. Niks spesiaals, groot of opwindend nie. Ek dink die datum speel die grootste rol in hierdie sage. Ek is een week voor Kersfees gebore. Die geboorte so voor Kersfees was al klaar ‘n helse probleem want daardie was die besigste tyd van die jaar op die plot! Daar is gebak en gebrou en geslag en gesels want die familie het almal op Kersdag saamgekuier. En nou was daar ‘n flippin baba in die huis wat die hele appelkar omgemoker het.  Van daar af het dit nie eintlik beter gegaan nie. My sus verjaar in Maart. So kry sy Maart maand ‘n geskenk. En een vir Kersfees. Ek kry een vir altwee dae. Dit suck en  dit maak dat ek onbewustelik Kersfese begin haat. Tipies kind.

Die ander ding is dat ek nooit een partytjie gehad het nie. Hoekom nie? Ek hoor al die asems wat geskok intrek. Omdat almal daai tyd van die jaar “weg was met vakansie” en daar geen maatjies was wat kon kom saam party hou nie!  So much for a birthday in middle December!”

My 21e breek aan. My familie was twee dae van tevore in ‘n motorongeluk. My verjaarsdag bring ek langs die hospitaalbed deur van my skoonsus. So stap die jare aan. Negentig persent van die kere vergeet almal want die voorbereidings vir Kersfees oorheers. Met my 30e verjaarsdag, sit ek en my twee klein kindertjies alleen in ‘n woonstel. Pappa het twee maande gelede by ‘n ander tannie gaan bly. Maar ek ploeter voort. Die lewe gebeur en daar is baie op en afs. So kom die 40 sleepvoetend nader. My tweede man is in die isolasie afdeling van die destydse HF Verword hospitaal. Ek spandeer die dag saam met hom. Drie maande later groet ek hom.

Maar nog steeds leef ons aan. Wat is ‘n simpel verjaarsdag dan tog nou eintlik. En so breek 50 aan. Die universe het ingegryp. En ek het die heel eerste regte egte verjaarsdag partytjie ooit! Uit die boonste rakke. ‘n Heerlike aand. O, het ek genoem dis toe ‘n hele maand vroeër as wat die regte dag is? Dis dalk hoekom dit so suksesvol was.

Nou is dit amper weer tyd. Ja nee, hoor…60 is nie vir sissies nie. Liewe ouers, toe my ma sestig geword het was sy stokoud! En nou is die vraag…gaan ek of gaan ek nie. Moet ek dit doen of moet ek nie?Maar die eintlike vraag is: Wil ek of wil ek nie. Die kinders staan reg. Penne in die hand, partytjie idees op spread sheets. Skimpe in alle rigtings. En die tyd stap aan. Dit moet weer in November gebeur want onthou….Desember is ons by die see/wildtuin/berge/oorsee….Mmmm….

To do or not to do….

Advertisements

Safari uitdaging Pretoria Jakaranda Stad

 

bus

Hierdie bloguitdaging is aanvaar deur 14 Afrikaanse bloggers wat ñ virtuele toer deur Suid-Afrika gaan onderneem. Die gasblogger van die week moet op ñ Donderdag, op die datum wat toegewys is, ñ blog publiseer oor hulle tuisdorp/streek, asook ñ fiktiewe weergawe van die ander 13 bloggers se kuier by sy/haar tuisdorp.

Klik op hierdie skakel om die lys van deelnemende gasbloggers te sien, asook die datums waarop hulle blogposse gepubliseer gaan word.

Die 13 kuiergasbloggers vir die week (en hul lesers) kan dan vir die res van die week ook blogposse bylas waarin hulle beskryf hoe hulle die kuier geniet het, of hulle kan ñ blog skryf oor die streek waarin die gasblogger van die week die kuiergaste onthaal het – vertel van ñ eie ondervinding in daardie provinsie/streek/dorp, deel herinneringe of plaas fotos wat daar geneem is. Enige lekker storie sal doen solank dit in die gasblogger se streek/provinsie afspeel. Kuiergasbloggers en hulle lesers moet asseblief ook hulle skakels byvoeg op InLinkz sodat ons almal kan saamlees.

Om jou blogpos by te voeg of om die ander bloggers te lees, kliek op die volgende: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928

____________________________________________________________________________________________

PRETORIA JAKARANDA STAD – DIT IS DIE MAAND OKTOBER

download (6)

Ek is Kameel so dankbaar dat sy vir Lorenzo aangestel het. Dit was die een ding wat my bietjie bang gehad het. My dae van bussie ry is baie lank terug al verby. En buitendien, as mens moet bestuur, moet jy jouself baie goed gedra, veral as jy so GROEN bussie ry! Die TPMD’s kyk ons hoeka uit! Lorenzo was maar te gewillig om die pos as bestuurder te behou. In sy eie woorde “Doar an idiot va spune nu sansa de a conduce astfel de femei frumoase in jur” (Net ‘n idioot sal nee sê vir die kans om sulke pragtige vroue rond te ry!)  Daardie mooi woorde het ons almal baie waardeer en ek is seker hy sal die permanente bestuurder bly!

Ons ry so met die agterpaadjies Cullinan toe. Die klomp gesels vanoggend weer ‘n hond uit ‘n bos. Die stof het nog nie gaan lê na Toortsie se prima vertolking in die Phantom opvoering van gisteraand nie. Kort kort moet sy weer net so ‘n stukkie sing van “Wishing you were here somehow” Ai, dan wil die traantjies so opwel maar ons is dapper, ons byt dit terug! Toe die gesprek eers begin draai na die potjie wat Una so gefassineer het, is alles vergete en peper die Towerinne haar met kwinkslae. Lyk my sy is ‘n ou kalant as dit by “goedjies” kom wat wegraak.

Toe ons sien, ry die groen bus Cullinan binne. Die mense draai hulle nekke om hierdie bus te aanskou.  Ons ry met Google maps tot by ons bestemming. Cullinan Diamond Mine! As ek nou terugdink, moes ek geweet het dit is moeilikheid soek, maar onthou, ek is die groentjie hier! Ek leer eers nou die Towerinne ken. En ek ken Una al lank.  Hester  en Lekkervurig kyk om hulle rond en ek sien die behoedsaamheid in hulle oë. Hulle het geweet wat gaan kom. Tannie Frannie deel skielik haar brode uit en sê saggies vir elkeen wat ‘n brood vat: Druk net die klippie vinnig in die brood. Niemand sal eers sien nie. Wie gaan nou brode deursoek? Ons is met die hysbak af in die myn. Die Cullinan myn is wêreldwyd bekend vir hulle rare blouwit diamante. In 1905 is ‘n allemintige 3106 karaat diamant daar gekry wat vandag pryk in die Britse krone. Dit was ‘n geskenk aan Koning Edward  VII vir sy 66e verjaarsdag. Die diamant is met gewone pos Engeland toe gepos!! In 2014 is ‘n blou diamant van 122.25 karaat gemyn wat net vir 27.6 miljoen US dollars verkoop is. Die toer deur die myn is indrukwekkend, want die daaglikse werks aktiwiteite gaan voort. En die Towerinne se oë skitter!

 

Die drama het gekom toe ons in die winkel na die diamante kon kyk en koop. Koop? Ons? Wat wou! Ons was almal toe so honger dat ons elkeen met die brode in ons hande gestaan het. Rasend honger, hoor! Ons is toe later almal daar uit. Niemand het niks vermoed nie. Later die week was daar glo ‘n geskarrel tussen die winkel en die hoofkantoor toe daar berig is dat ‘n paar diamante spoorloos verdwyn het. Maar niks wys op die kameras nie. Onverstaanbaar!

Terug by die toerbus. Tannie Frannie vat elkeen se brood terug en pak dit in daardie wit mandjie van haar. Lorenzo word baie mooi aangesê om daai mandjie met sy lewe te bewaar, anders is hy op die eerste vliegtuig terug Roemenie toe. Hy stem in, met oë so groot soos pierings. Het skielik agtergekom dat hierdie fraai dames ‘n gedugte span is! Ons loop ewe vrolik na die ou  Cullinan stasie. Mense,  die adrenalien pomp! Franselekker is nou te flou en ons gooi maar bietjie hardehout.  Trommeltjies en Bondels down dit met een slag. Hulle senuwees is aan skerwe. Mind you, myne ook maar want ek is die gasvrou. Dink net die Oom se gesig as hy my moet kom uitbail vir diamant diefstal!Ag moeder, die ou stasie gebou is in die ougatste restourant omskep. Toortsie wil dadelik weet of daar enige banting kos is, en glo my! Daar is! Nou bestel ons regte sjampanje! Ons moet hierdie uitdaging van vanoggend goed vier.

 

Na ons lekker ete, drentel ons deur die strate van die pragtige dorpie. Teen vieruur is ons nou moeg en klim ons gedwee en stil terug in die bus. Ons slaap vanaand by Ouklip in die Dinokeng natuur reservaat. Na die slaap by die pragtige Ivory Manor is hierdie  towerinne is in vir ‘n slaap van ‘n ander aard! Die bus skud en skommel oor die grondpad.  Ja, die Groot Vyf is hier. Ons ry die plek in, en ek loer onderlangs om die gesigte dopte hou. Die feit dat die leeus hier in die omgewing loop, laat die nekhare bietjie regop staan. Ons slaap in tente, weet jy? ‘n Leeu byt vinnig ‘n gat in daai seil. Ons sien olifante en zebras. Perdebytjie neem net fotos. Scrappy en VirgoC skree kort-kort: Kyk die bok! Hulle was redelik lanklaas in die bos. Dan is ons aan die eenkant van die bus en dan sien iemand weer iets aan die anderkant! Ons wieg daai bus soos ‘n skuit! Niemand steur hulle aan Lorenzo se paniekerige kyke nie! Hy is nie olifante in die pad gewoond nie.

Dink net, die Groot 5 amper in die stad? Ondenkbaar!

Nou vir die hoogtepunt van hierdie kuier. Die Oom het mos ‘n pendeldiens en hy ken mense wat weer mense ken. Ons kry toe vanaand die geleentheid om by Haywards Dining te gaan eet. Dit, my liewe bloggers, is ‘n “experience”. Ons almal is alweer so uitgerus en reg vir hierdie ete, al het ons net ‘n paar ure terug onsself vervreet daar by die stasie. Weereens is Toorts bekommerd oor die banting, maar ek dink sy kom agter dat sy haar glad nie hier hoef te bekommer daaroor nie. Ons hou daar stil, saam met ‘n bus vol stroewe Duitsers. O my word! Hier kom ‘n ding! Ek voel dit sommer so aan my broek se soom. Ons eet van die spit af.  Die tequila shots is op die huis. Ons marimba en samba sonder skroom. Dit was nie lank nie of die Duitsers en die Towerinne gesels soos ou vriende. Natuurlik, hoe later, hoe kwater. Maar vanaand was ons veilig. Ons is in die bos, ver van polisie en verkeerskonstabels. Ons enigste vyand is dalk ‘n honger leeu, maar ons was bietjie ingelê. Geen dier sou aan ons hap nie! Ek kan net noem dat die Towerinne nie skaam was nie. Ons het daai Duitsers onder die tafels ingedans. Let wel. Ons bo-op die tafels. Sulke sterk houttafels. Sela.

thumbs_Stories-around-fire
Om die vuur
thumbs_Food-02
Kyk daai kos!
thumbs_DSC9073
Dancing in the dark!
thumbs_DSC8719
Bosveld kuier in styl

Die volgende oggend het ons maar strammerig opgestaan, maar Scrappy het ons weer laat aantree en na ‘n dop SKOP was ons reg vir die volgende been.  Daar is ‘n stryery of dit wel leeus was wat vroegoggend naby die kamp gebrul het of nie. Ons ry en bekyk die mooi wêreld wat ‘n hanetree van die besige stad af is.Die volgende oomblik is daar ‘n geluid en die bus begin op drie wiele wankel. Ons hou stil en sien dat die linkervoorwiel pap is. Die enigste raad is om by die eerste indraaipad in te gaan en hulp te gaan soek. Die naambord is pragtig en mens sien die mooiste grasperke en rondawels van ver af.  Dit is seker een van die vyfster lodges. Hier in Dinokeng is daar akkomodasie te kies en te keur. Die bus kom om ‘n bos en skielik is dit doodstil. Dan begin Kameel giggel. Hester snak na haar asem! Lekkervurig los ‘n vurige woord. Perdebytjie ruk haar kamera uit. Tannie Frannie maak haar oë toe met haar hande. Una is dadelik histeries van die lag. Trommels kry die wyn beet en pass dit aan soos nagmaal wyn. Bondels duik onder die bank in, haar hare val bo-oor haar oë. Seegogga, Positief en Scrapy staar net na dit wat aanstap na die bus toe. Toortsie trek los met “I want to break free!” maar haar stemmetjie is nie so suiwer en sterk soos op daai verhoog nie. Ek skat dis wat gebeur as sy senuweeagtig is. Dis net so piep gesangetjie.  Selfs Lorenzo laat hoor daar van voor af ‘n woord wat vreemd bekend klink, maar onthou, hy praat Roemeens. En as ek reg het, beteken daai woord vuur, maar ek kan nie uitfigure wat vuur nou met hierdie situasie uit te waai het nie. Net Virgo hou haar pose. Party kyk en party kyk nie as die twee mans nader stap om te kom hoor of hulle ons kan help nie.

Welcome to Sun Eden.

 

Ons  klim maar stadig uit die bus uit. Jy kan sien hoe fokus ons om net in die manne se oë te kyk. Ek hoor proes geluide maar ek kan nie sien wie dit is nie want ek is die gasvrou en ek moet hierdie situasie mooi hanteer. Die ooms is nie links nie en  hulle begin om die bus se wiel om te ruil. Perdebytjie neem skelm fotos want die kennisgewing bord sê baie duidelik: GEEN FOTOS!  Praat van ‘n sight for sore eyes!!! HAHA!! Tjop tjop is die bus weer padwaardig maar ons word uitgenooi om ietsie saam met die mense te geniet. Ons het toe maar die regte ding gedoen en baie beleefd nee dankie gesê. Ek dink daar was een of twee wat graag daar sou wou vertoef vir die dag, maar ons Towerinne staan mos saam! Dalk kan ons dit volgende keer inpas. Ons weet ten minste nou van die plek. Almal waai vir die ooms wat poedelkaal daar staan en terugwaai. Nou ja! Ek mag nie al die kommentare wat toe daar losgebars het, oorvertel nie. What happens on the bus, stays on the bus!

Toe ons by Ludwigs se roosplaas inry, is die pap wiel (let wel, net die pap wiel) vergete. Vir die volgende twee ure het ons towerinne ons gate uit geniet tussen al die pragtige rose. Die rose is vol in blom. Daar is rose van elke kleur en reuk. Mense, dit was asof jy in ‘n parfuum winkel loop. Die reuke was iets om vir altyd te onthou. Dit was hemels. En die ete daarna!  En ons het gekoop. Rooskonfyt. Handerome! Droë roosblare! Ag, noem dit en dit is in iemand se sak! Toortsie het omtrent die sjef se arm gedraai om vir haar die Rooskaaskoek se resep te gee, want sy wil dit met alle mag en krag in ‘n banting resep gaan omsit.

Die Pretoria kuier het sommer gou verbygegaan. Ons het iets van als beleef. Gelukkig vir ons was daai snip van ‘n verslaggewer nie hier nie, want ek kan net dink hoe sy die storie van Sun Eden sou verdraai het. Maar ek kan nie help om te wonder of een van ons Towerinne nie dalk undercover is nie… ek het so vae voorgevoel dat hierdie Sun Eden iewers gaan feature…

Tussen stasies

Op hierdie Maandag oggend, na ‘n relatiewe depressiewe naweek, kom ruk Abrie my memory boksie oop met sy blog oor die Gautrain. Ek myself is dol oor die Gautrain. Dis bekostigbaar, vinnig en oor die algemeen baie betroubaar. Dis nie meer ‘n dagreis te perd Sandton toe om by my kind te gaan kuier nie. Veertig minute, geen padwoede of padvarke, rus en vrede. Gooi die adrenalien rush in van die spoed waarmee die trein beweeg, en jy het die prentjie.

Maar my memory boksie se laai spring oop. My Pa het ‘n gebreklike regterarm gehad. Ongelukkig het sy Pa hom verwerp daaroor en my Ouma het hom weer so beskerm teen die wrede wêreld, dat hy nooit die vrymoedigeheid gehad het om te leer kar bestuur nie. Hy het 71 jaar oud geword en gesterf sonder dat hy ooit self een keer daardie voorreg gehad het. Maar hy kon jou alles vertel van die specs van enige kar. Ons het meesal aan die OosRand gebly waar die trein stelsel baie goed in plek was. So, vandat ek kan onthou, weet ek van trein ry.  Die treine in ons dae was nog die maroon/bruin kleur. Ek was baie trein-wise. Van kleins af. Trein ry was vir ons so natuurlik soos wat fiets ry was. Ons het altyd naby stasies gewoon, omdat ons moes loop tot daar.  Partykeer het ons ‘n taxi gekry. In daardie dae was dit altyd ‘n Valiant. Groot tye.

images (8)

Toe ek so 10 jaar oud was, aanvaar my Pa ‘n pos in Vanderbijlpark. Ons is uit ons vaarwater uit want die openbare vervoerstelsel daar is heelteml anders was wat ons gewoond was in die OosRand. Ons het drie dae daar gebly, toe my Pa besef het dat hy ‘n groot fout begaan het. Daardie Maandagaand is ek, my Ma, my sus, altwee katte en die hond tesame met die budjie, summier op die trein gelaai en is ons terug Brakpan toe waar ons in ‘n losieshuis gaan bly het tot my Pa weer by ons kon aansluit. O ja, moet asseblief nie al die tasse ook vergeet nie. Ek onthou dat my grootste vrees was dat die trein sou wegry terwyl ons nog besig was om die pakkaas af te laai. Maar die kondukteur was baie behulpsaam en het ons veilig met al ons besittings op Germiston stasie afgeklim, waar ons weer met ‘n ander trein Brakpan toe moes gaan.

Ek verjaar in Desember en die jaar wat ek sestien word, is dit ons eerste vakansie met die slaap trein. Die groot stoomlokomotief stoom Johannesburg stasie in, bol jou gesig vol rook. Mense, daai geskarrel op die perron , die loop en kyk dat die kruier jou bagasie tog net na die regte venster toe stoot (want die meeste bagasie is sommer deur die venster aangegee), die fluitjies wat blaas, die stem oor die interkom…ag, dit laat my sommer vandag stukkend verlang. Dan begin die trein beweeg. Dis aand. Die stad se liggies flits verby. Later word dit donker en sien jy net liggies in die verte. Ons maak bed. Ons het ons eie beddegoed gebring. Kan nie die trein s’n bekostig nie. Jy lê op daai nou bedjie en hoor die klikketie-klak, klittetie-klak en dis soos musiek. Op De Aar maak die pieng-pieng jou wakker as die oom teen die ysterwiele tik.

Die hoogtepunt was die etes op daardie trein. Spierwit dikgeweefde gestyfde tafeldoeke en servette. Messe, vurke en lepels van swaar silwer.  Die klomp messe en vurke verwar my. “Eet van buite af binne toe, ” kom Pa se wyse raad. Sop, vis, hoofgereg, nagerg, kaas en beskuitjies, koffie. Drie etes op ‘n dag. Tussendeur speel ons Ludo, slangetjies en leertjies of kaarte by die klein opslaan tafeltjie in die kompartement. Salig! Ek word sestien op die trein. My Pa vertel dit met ‘n groot glimlag vir die kelner. Tienuur word ons eetsalon toe genooi. Daar was redelik mense wat maar deur die dag daar gesit en kuier het met drankies. Op die tafel is daar vir my ‘n koek. Ek word sestien en deel my verjaarsdag koek met ‘n klomp vreemde ooms en tannies…wat ‘n partytjie! Kry tot ‘n Rock Shandy as komplimentêre drankie.

Ek het daagliks Johannesburg toe gery met die trein. Soggens en saans. Partykeer het ek ‘n date, dan hol ek van Marshallplein af (waar die Effektebeurs was) tot by die stasie op hoë hakskoene om die sneltrein te kry.  Dis twintig minute se vinnig hardloop! Daai trein was gewoonlik gepak met mense. Hy het eers van Benoni af op elke stasie begin stop. My stasie se naam was Schapensrust.

In 1979 het ek vir die laaste keer trein gery. Ons treine. Volgende jaar is dit veertig jaar. Ai tog, dis so hartseer. Maar toe kom die Gautrain. Elke keer as ek met hom ry, maak ek my oë toe, en dan verlang ek. Na daardie heerlike tye. Die trein vriende. Die vakansies. Die onthou. Net vir 30 minute lank. Want dan is ek daar.

Tussen treine, tussen stasies….een van my grootste songs!

Kuier Safari – Bondels se plaas.

Kuier Safari- Bondels se plaas

 

james-gillespie-709309-unsplash

 

Wel, die verkeidenheid van goed wat op die plaas by Bondel gebeur, is amazing. Daai shofars! Sjoe, ek is so bly ek weet nou waar om dit te kry.

Maar Towerinne, ons sal mooi moet kyk na Tannie Frannie. Daai Silver ou se blou oë mesmeraais mens maklik. Natuurlik gun ek haar die vreugde om nuwe mense te ontmoet. En nuwe dinge te doen, soos om op ‘n Harley rond te jakker. Ons moet net seker maak Silver hanteer ons tannie reg.  Dis erg genoeg dat sy deurgeloop het op die dam, en nou sit met ‘n DUI. Komaan Towerinne, ons sal moet ‘n plan van aksie in stel om seker te maak sy maak die res van die toer in een stuk, of is dit nou in  een hart?

Kuier-Safari: Bang!

Nie soos in bevrees nie! Soos in WOW!!

Kyk, ek het met die Oom se shuttle bussie ORTambo toe gery om die res van die Towerinne daar te ontmoet. Ek was maar baie bedees op pad want ek het diep in my binneste diep geweet dat hierdie toer nie die gebruiklike Greyhound bus toer gaan wees nie. Maar omdat die Oom so bietjie afgesit was deur die lang tyd wat ek weg sou wees, het ek maar met ‘n lang gesig en baie sugte die pad aangedurf ORT toe. Hy het my gegroet met die idee dat ek vreeslik opsien na hierdie petalje en het my verseker dat hy my enige tyd sal kom haal, as dinge vir my te veel sou raak. Die shuttle was nog nie by ORT se drop off uit nie, toe verhelder my gesig toe ek al die Towerinne sien! Ek is mos maar die groentjie, ek en Bondels. Alhoewel ek vermoed dat Bondels al baie meer “insae” in die Towerinne se wel en wee het!

Dit was die grootste bang! Want toe ons in daai groen bus klim het ons gerol soos ‘n daggazol! Mense! Toortsie ruk daai kitaar uit en daai songs! Jan Blohm en Steve Hofmeyr sal betaal! Hoop sy het kopiereg daarop. Vandaar af het ek net gelag. Nee hoor! Die kwinkslae wat uit daai monde kom, is ‘n boek op sy eie. En elke kort kort word daar in my en Bondels se rigting gekyk en dan word gesê: “Wag maar…!”

Ek onthou alles van Pretville. Dit was ‘n fees. Maar toe ons daai barge tref! O wee! Veral toe ons (dis nou ek en Bondels) die Frangelico (oftewel Franselekker) kry om te drink! Ek moes een of twee keer maar gaan draai in daai geriefie, maar die ouens wat verby gevaar het , het net twee broodboude gesien soos ek gebukkend gestaan het…. ek is honderd persent oortuig dat dit die soetigheid was wat my siek gemaak het! Ek weet nie waar Bondels later heen verdwyn het nie, want toe ek weer sien is ek alleen. Maar mense! Toe sien ek hoe Tannie Frannie op daai oranje vlot lê soos ‘n wafferse model! Maar ek het nie gesien wie dit was wat haar laat kantel het nie! Njannies koepêla!

Ek was natuurlik ook stom van verbasing toe ek hoor van die joernaliste en papparazzi’s! Haai mens?  Hierdie is ‘n ordentlike klomp vrouens bymekaar? Hoekom wil enige iemand nou so onskuldige toergroep in ‘n lelike lig stel? Ek het in my stille droomwalm allerhande goed uitgedink wat ek met hulle sou aanvang, maar ek het nie nodig gehad om my wrede kant te ontbloot nie. Lekkervurig het haar naam gestand gedoen. Ek wonder of daai Vis weet wat hy misgeloop het? Maar ek is oortuig dat Vis ‘n jammerlike vlees sou word saam met haar, die dat Rots reg is.

Nou ja…ek is seker julle Towerinne sal hierdie laat inskrywing nog lees. Ek is jammer maar ek was die meeste van die tyd so meegevoer dat ek eers besef het ons het klaar by die dam gekuier toe ek sien die bus het ‘n ander bestuurder. Maar ek dink dit sal nou beter gaan want ek is mos nou ontgroen en ingelyf. Van hier af sal ek nou weer oplet, hoor!

O boy! Hierdie is voorwaar net die ding wat hierdie suwwe kop en oorwerkte lyf nodig het. Gie-gie…die oom dink ek is teen my sin op hierdie toer! Bwahahaha!!

 

 

Wie het gesê?

Dis op dae soos vandag dat ek besef om vrou te wees is die mees uitdagendste ding ooit.

luis-galvez-635869-unsplash

My Glimlagkind is op hierdie oomblik stoksielalleen op pad Kruger Park toe. Sy gaan vir drie dae alleen (sonder vriende of familie) stap. Net sy en ‘n klompie buitelanders. Sy is lief vir die bos, en ek dink haar hart roep al lank na so eksursie, maar nou het dit gebeur. Sy is oppad.

“Dis my verjaarsdag geskenk aan myself,” het sy nou die dag so braaf kom vertel. Maar ek weet. Ek weet dis ‘n tyd van eenkant gaan en ophou stemme hoor. Stemme van man, vriendinne, ouers, beraders. Weg van die aanwysings.  Die hard probeer. Die voorgee. Die selfopgelegde straf omdat jy by die huis raas kry oor jou werk en by die werk raas kry oor jy nie 100% gee nie. Want eintlik het jy nie meer om te gee nie. Eintlik is die emosionele bankrekening laaaaaaankal leeg getrek en is daar min emosionele depositos gemaak.

En eintlik weet jy wat jy wil doen. Wat vir jou menswees goed sal wees. Maar…. eintlik moet jy maar dalk uithou en aanhou en kophou en bekhou vir nog so plus minus agt jaar. Ek meen, jy kan seker nie meer dood voel as wat jy nou voel nie.  So, om nog net agt jaar die skyn voor te gee en net kop neer te sit en aan te gaan asof niks verkeerd is, is seker nie so erg nie?

Sy huil as ek haar bel. Sy huil al vandag sy uit Pretoria uit weg is. Haar stem is so dik van al die huil dat ek eers dog ek het die verkeerde nommer gebel. Dit skeur haar menswees uitmekaar. Hierdie “ding” wat nou met haar gebeur. Ek praat met haar, probeer maar ‘n ou grappie of twee maak om haar op te beur, maar ek weet sy is alleen  vir hierdie volgende drie dae.

Ek kan net vir haar die versekering gee dat sy wel haar antwoorde gaan kry in hierdie drie dae. Ek kan haar ook net vertel dat die ergste ding wat gaan gebeur, is dat sy moet terugkom en dan haar antwoorde moet toepas, en dis waar die eintlike proses gaan begin. Om haar antwoorde toe te pas. Want dit kan die appelkar helemal omfoeter, of dit kan die skippie saggies laat verder vaar. Maar dit sal eers duidelik wees, as sy terugkom en sy het gehoor wat die natuur vir haar sê.

Wie het gesê dat dit maklik wees om na ‘n paar dae se vlug, terug te kom en dan te doen.

Notas uit ‘n logboek Vyf

Ek het lanklaas, baie baie lanklaas vir iemand gebid. Daar was ‘n tyd toe dit soos ‘n tweede asem was en ek het enige tyd vir enige iemand gebid wat dit op daardie stadium nodig gehad het. Maar soos ek sê, dit het vrek lanklaas gebeur. Deels maar omdat dit my eie keuse was. En ook omdat dit vir my moeilik was in die afgelope tyd. Ek het met te veel goed gestoei en baklei en gewroeg. En toe gee ek op en besluit om net weer asem te haal.

Vanoggend vroeg storm die Oom in die kamer in. Sy oë is groter as my sopborde en hy is wit in die gesig. Hy hoor water spuit in die tuin. Baie water. Hy storm weer uit en ek loer deur die venster. Vrekkit! Dis vreeslik baie water wat daar spuit. Druipnat en baie dikbek (want dis nie die warmste someroggend nie!) kry hy die water uiteindelik toe gedraai. Nou begin die beplanning. Ons moet ‘n loodgieter kry. Hy is in ‘n toestand. Dis nie die regte tyd van die maand vir sulke uitgawes nie. Deur ‘n kontak kry ons toe darem iemand wat gewillig is om so gou moontlik uit te kom.

Die probleem is dat die Oom elke oggend agtuur ‘n Indiër optel en Rosslyn toe vat. Met al die geharwar val die lot op my. Ek moet vandag daardie takie uitvoer. Ek is eerlik, ek kan my bek 100bar pomp as ek enige iemand moet “shuttle”, maar die kalf is in die put en hy het die freakin waterpyp gebreek met daai val. So, as ek vanaand wil bad, moet ek maar die rywerk doen. Snaaks genoeg is ek so kalm en ek ry sonder enige dikbek wange om hom te gaan haal. Hy kom aangestap, al pratende op sy foon. Die rit neem omtrent twintig minute tot by sy werk. Ek kan nie anders as om die gesprek te volg nie, die ou aan die ander kant praat nie. Hy skree op die arme Rejith. Rejith  is ‘n Christen Indier wat nou al ses maande hier in SA werk op kontrak. Hy bly in ‘n woonstel met ‘n bed en twee stoele. Hy het nie vervoer nie. As iemand hom nie vat om te gaan kos koop nie, het hy nie kos nie. Die Oom sal hom so dan en wan Laudium toe vat waar daar ‘n kerk is.

Ek kry die man so jammer. Die ou aan die anderkant verneder hom. Hy kan ook maar net doen hier in SA met die werkersklas wat hy moontlik kan , en ons almal weet hoe moeilik dit is. Net voor ons by die fabriek inry vra ek of ek vir hom kan bid. Glo my, ek skrik so vir die woorde wat uit my mond kom, dat ek daai Panda amper rol teen ‘n spoed van 30km per uur. En ek bid. Liewe ouers…ja. Laat ek maar niks daarop sê nie.

‘n Uur later kry die Oom die dankiesê boodskap. “I think it was God’s plan for your wife to take me to work. I was heavily upset but her prayer made me calm and I could fix the situation without a fight.”

O nee…dis nie ek nie! My mond het die praatwerk gedoen, maar dit was nie ek nie…nie my woorde nie. En o ja, dis fine met my as ek die spreekbuis moet wees. Ek wonder net oor die loodgieter se rekening!!